Tigers groet Namibiu00ebr met sewe medaljes
Tigers groet Namibiu00ebr met sewe medaljes

Tigers groet Namibiër met sewe medaljes

Swem
Tielman van Lill
Die 15-jarige Jose Canjulo, een van Namibië se topjunior swemmers, het vandeesmaand sy merk in Pretoria, Suid-Afrika, gemaak waar hy drie goue-, drie silwer- en een bronsmedalje in die swembad verower het.

Canjulo, wat in die 14 to 15 jaar-afdeling deelgeneem het by die Northern Tigers-swemklub in Hillcrest, het by dié gala as die voorste junior na vore getree met 649 Fina-punte in die sakkie.

Die prestasie het hy in die 100 m-vryslag behaal toe hy die water in 54.27 sekondes laat kook het. Hy behaal ook kwalifiserende tye en 609 Fina-punte in die 50- en 100 m-vlinderslag.

In die 400-vryslag teken hy 4 minute 31.89 sekondes aan om die bronsmedalje op te raap. Sy drie silwermedaljes behaal hy in die 100-vlinderslag (58.89 s), 50-vlinderslag (26.27) en 50 m-rugslag (28.77). Sy skitterende tyd van 26.27 s in die 50-vlinderslag, is ’n nuwe Namibiese ouderdomsrekord.

Hy wen goud in die 100 m-vryslag (54.27), 200 m-wisselslag (2:15.84) en 200-vryslag in 2:00.64

Canjulo, wat onlangs nog by die Tuks-swemklub in Pretoria geoefen het, moes weens Covid-19 sy oefenprogram onderbreek en huiswaarts keer. Hy het intussen by die Aqua-swemklub in Windhoek aangesluit waar hy getrou onder die wakende oog van Jean Michael Leitner, afrigter van Aqua, geoefen het.

Canjulo sê die gala by Tigers in Pretoria was beslis die hoogtepunt vir hom die afgelope seisoen.

Kommentaar

Republikein 2025-05-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer