Tienjarige 'alleen toegesluit'

'Hoe weet jy waar is jou kind?'

03 July 2020 | Gesondheid
Henriette Lamprecht – Alleen toegesluit en aan die genade oorgelaat, moes 'n tienjarige meisie van die kus onlangs 'n nag alleen in kwarantyn­geriewe sonder 'n ouer deurbring, nadat sy deur 'n drywer daarheen gebring is.

Volgens 'n ingeligte bron is die meisie en haar ma albei vir Covid-19 getoets, maar was die kind se uitslae eerste bekend. Sy is glo in opdrag van die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste (MoHSS) deur 'n drywer wat “deur die dag koerierdienste lewer en saans vir hulle rondry” gaan haal en na die munisipale ruskamp op Walvisbaai gebring.

“Dit is nie professionele mense nie, dis drywers wat deur die dag rondry. Hy gee nie om nie, want sy opdrag is hy moet iemand gaan haal en klaar,” sê die bron.

Volgens hom is die kind “sommer net so” en sonder toestemming na die kwarantyngeriewe geneem.

“Dit beteken die kind gaan letterlik in 'n vreemdeling se sorg en hande totdat sy uiteindelik by die ruskamp beland het. Daar is geen professionele liggaam waar hierdie persoon geregistreer is aan wie se genade jou kind oorgelaat is en waar jy kan navraag doen nie.

“Waar begin jy soek, hoe weet jy waar is jou kind? Dit is 'n totale vreemdeling, jy weet nie by wie is jou kind nie,” het hy gesê.

Was dit nie vir 'n maatskaplike werker wat haar glo die nag oor die mei­sie ontferm het nie, sou sy volgens die bron “stoksielalleen” gewees het. Volgens hom het die maatskaplike werker na bewering “aan die anderkant van die muur” by die meisie gebly. “Was dit nie vir haar nie, was daar niemand nie.”

Die meisie is glo ná 'n dag of twee weer met haar ma herenig nadat die ma ook positief vir Covid-19 getoets het.

Volgens die bron is 'n ma op Walvisbaai wat alleen saam met haar kinders ook glo “sonder meer” by haar huis gaan haal en is haar kinders “net so gelos”.

“Sy kon nie eens reël dat iemand na hulle omsien nie.”

Die regering is volgens die bron na bewering tans besig met 'n werksdokument wat die regulasies uitstip oor wat presies die protokol behels wanneer ouers en/of kinders positief vir Covid-19 toets en gevolglik in isolasie moet gaan.

“Wat gebeur intussen en totdat hierdie dokument bestaan?”

Volgens die bron is ouers aan die kus vreesbevange dat dieselfde lot hul sou tref as 'n kind positief vir Covid-19 toets en noodgedwonge alleen in isolasie moet gaan.

“Mense jok op kontaklyste en gee nie die regte details nie. Jou kind word net kom haal en aan die genade oorgelaat.

“Baie sê as hulle siek is, bly hulle eerder stil en by die huis en gaan daar dood. Dit is skokkend dat 'n mens moet bang wees in jou eie land.”

Intussen het die minister van gesondheid, dr. Kalumbi Shangula, op sy beurt gesê positiewe toetsuitslae van kinders word op 'n geval-tot-geval-grondslag hanteer.

“Die ideaal is om die positiewe persoon te isoleer, maar ons kyk na die beste belang van die kind.”

Sou 'n ouer positief toets en daar is nie bykomende ondersteuning vir die kind sou die ouer in isolasie geplaas word nie, sal dit ondersoek word of dit in die beste belang van die kind sou wees om van die ouer geskei te word, het Shangula gesê.

[email protected]

Soortgelyk

 

Gesondheidswerkers, leerlinge en onderwysers deel van 343 nuwe gevalle

10 ure gelede | Gesondheid

Sewe Covid-19-verwante sterftes is vandag aangekondig en wel vier in Windhoek, twee in Swakopmund en een in Grootfontein. Die sterftes in Windhoek sluit 'n 63-jarige...

Moller, Hatuikulipi se belange onder vergrootglas

1 dag gelede | Misdaad

Hoofredaksie – Een van die transaksies wat deur die Teenkorrupsie-kommissie (ACC) as deel van die Fishrot-ondersoek gefynkam word, is 'n bedrag van N$8 miljoen wat...

Rekening van N$151 000 bly toe 'jakkals' gly

1 dag gelede | Misdaad

Francoise Steynberg – 'n Vermeende glyjakkals wat vir 'n maand saam met sy gesin in 'n gastehuis op Swakopmund gebly en glo nie betaal het...

Mans vas oor vervalsing van Covid-19-toetsuitslae

1 dag gelede | Misdaad

Kristien KrugerTwee Zimbabwiese mans is Saterdag omstreeks 12:00 op Katima Mulilo in hegtenis geneem vir die besit was vervalste Covid-19 laboratoriumtoetsverslae van PathCare Namibië.Die mans...

Reënweer bring groot skade

1 dag gelede | Weer

Kristien Kruger – Terwyl Namibië die derde week van swaar neerslae binnegaan, is groot skade reeds aan paaie, landerye en ander infrastruktuur aangerig. Windhoekers is...

Weer vir 11 Januarie 2021

1 dag gelede | Weer

BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en baie warm in die Noordweste, verre Weste en dele van die //Kharasstreek. Elders sal dit bewolk en warm tot baie...

Regering slaan toe op klaringsagente

1 dag gelede | Regering

Phillepus Uusiku – Die regering is in die finale fase van die instelling van strenger maatreëls vir die lisensiëring van klaringsagente.Die instellings beoog om die...

Nafau wen in hof teen Shoprite

1 dag gelede | Arbeid

Kristien Kruger en Adolf Kaure – Stakende Shoprite-werknemers was Vrydagmiddag verjuig toe die hoërhof in Windhoek beslis het dat ’n interdik teen die Shoprite-winkelgroep uitgereik...

Op die spoor van Hardapdam se opvangsgebiede

1 dag gelede | Infrastruktuur

Kallie Pauw (gasskrywer)Die onlangse wonderlike reën in groot dele van Namibië en verslae daaroor en foto's van vol riviere en dansende boere het mense (soos...