Tienduisende vlug voor brande in Kalifornië

Wegholbrande aangedryf deur 'n sterk Santa Ana-wind saai verwoesting in Kalifornië, Amerika.
Tienduisende mense vlug voor minstens twee wegholbrande wat naby Los Angeles woed en wat deur sterk wind aangevuur word.

Minstens een persoon het reeds omgekom, berig Reuters.

Volgens LA Times moes minstens 27 000 mense as voorsorgmaatreël hul huise ontruim en sowat 3 000 huise is in die spervuur.

Die brand in die weste van die stad, in Ventura County, staan bekend as die Thomas-brand, en het Jerry Brown, goewerneur van Kalifornië, genoop om ’n noodtoestand af te kondig.

Mark Lorenzen, brandweerhoof van Ventura, sê die moontlikheid bestaan dat nog gebiede ontruim sal moet word.

Die wegholbrande het oor hoofweë gespring en woed reeds tot aan die kuslyn.

Luukse woonbuurte soos Bel-Air in Los Angeles en selfs die Getty-kunsmuseum word bedreig.

’n Woordvoerder van die museum het aan CNN gesê die uitgebreide kunsversameling is op ’n veilige plek en hoef nie verskuif te word nie.

Sommige gebiede is ontruim en die Getty-museum is vir die dag gesluit om die kunsversameling teen die rook te beskerm.

“Ons plan is om die brand te stop voor dit erger word,” sê Eric Garcetti, burgemeester van Los Angeles.

Dié brand het reeds ’n gebied van 65 000 akker – sowat vyf keer die grootte van Manhattan – verswelg.

Meer as 1 000 brandbestryders probeer die brande beheer. Drie van hulle is intussen beseer en word in die hospitaal behandel.

Die weer speel ook nie saam nie. Die droë Santa Ana-wind se spoed word teen tot 112 km/h gemeet.

“Ons verwag dat hierdie situasie tot minstens Vrydag sal voortduur,” sê Ralph Terrazas, Los Angeles se brandweerhoof.

- Netwerk24/Reuters

Kommentaar

Republikein 2025-05-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer