Thiem, Zverev pak mekaar in VSA-eindstryd

Tennis
Dominic Thiem het Vrydag sy tweede Grand Slam-eindstryd van 2020 gehaal en sal sake Sondag om die Amerikaanse Ope-titel teen Alexander Zverev uitspook.
Die Grand Slam-wennersklub sal ná afloop van dié kragmeting ’n splinternuwe lid verwelkom.
Die tweede gekeurde Oostenryker het die Rus Daniil Medvedev (derde) met 6-2, 7-6(7), 7-6(5) geklop, terwyl die Duitser Zverev (vyfde) vroeër met 3-6, 2-6, 6-3, 6-4, 6-3 met Pablo Carreno Busta van Spanje afgereken het om deur te dring na sy eerste major-eindstryd.
Die 27-jarige Thiem, die naaswenner by die Australiese Ope in Januarie, het twee keer in die kragmeting gegly en geval en op die tweede geleentheid kwaad gereageer, maar sy fokus herwin om te seëvier.
“Ek het my beste spel aan die einde van die stelle gelewer en ek is baie tevrede om deur te dring,” sê Thiem.
Zverev, met die rug teen die muur, het net betyds sy spelpeil gelig om sy 20ste gekeurde teenstander van ’n verrassende oorwinning te ontneem. Hy het boonop vir die eerste keer in sy loopbaan ’n agterstand van twee stelle uitgewis om ’n wedstryd te wen.
Dit wou voorkom of die Duitser beslis op pad was na ’n nederlaag en het 36 ongedwonge foute in die eerste twee stelle begaan. Hy kon egter sy veelsydige speelstyl gebruik om homself op te tel en het vir die res van die kragmeting na ’n ander speler gelyk.
“Ek het na die telbord gekyk ná die eerste twee stelle en gedink: ‘Ek kan dit nie glo, ek speel in die halfeindstryd waar ek veronderstel is om die gunsteling te wees en ek loop agter met 0-2’.
“Ek het geweet ek moet vorendag kom met beter tennis... maar ek is deur na my eerste Grand Slam-eindstryd en dit is al wat saakmaak,” sê Zverev.
• Duitsland se Laura Siegemund en die Rus Vera Zvonareva het Vrydag die vroue-dubbelspeltitel by Flushing Meadows beklink deur Nicole Melichar van die VSA en China se Yifan Xu in die eindstryd te klop.
Hulle was met 6-4, 6-4 baas.

Kommentaar

Republikein 2025-12-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer