The Rock en Black Mamba stel nie teleur

Namibië se voormalige wêreldkampioen in twee gewigsklasse is met mening terug.
Tielman van Lill
Tielman van Lill op Otjiwarongo - Paulus Ambunda het presies 475 dae nodig gehad nadat hy laas geboks het om weer sy stem in die kryt dik te maak deur sy opponent binne 1 minuut en 22 sekondes in die tweede ronde tot oorgawe te dwing.

Die 37-jarige Ambunda (The Rock) was Saterdagaand by 'n toernooi van Salute Boksakademie op Otjiwarongo in die hoofgeveg van die aand teen Tasha Mjuaji van Tanzanië in aksie. Vir die eerste keer in sy loopbaan het hy as 'n veergewig (57.15 kg) deur die toue geklim.

Ambunda se laaste geveg was op 11 Junie 2016 in Windhoek as superkapokgewig (55.3 kg), toe hy beide sy IBO wêreld- en WBA tussentydse wêreldtitels aan Moises Flores van Argentinië moes afstaan.

Vir Ambunda was dit 'n bitter pil om die geveg teen Flores eenparig met punte oor 12 rondes te verloor. Hopelik sal sy oorwinning teen die veel jonger Mjuaji sy loopbaan weer op dreef kry.

Nadat Ambunda sedertdien vir meer as 'n jaar nie 'n geveg gehad het nie, het die klaarblyklike skeuring met sy jarelange promotor, Nestor Tobias, voor die naweek 'n dramatiese wending geneem. Tobias het Vrydag 'n dringende hofaansoek gerig om Ambunda te probeer verhoed om onder die Salute-vaandel te veg, maar moes toesien hoe sy aansoek misluk.

In kort het Ambunda vanaf die eerste ronde sake in die kryt gedikteer en Mjuaji twee keer op die krytvloer gehad.

Met skaars 'n minuut verstreke in die tweede ronde was dit weer The Rock wat sy teenstander met goeie kombinasies in die hoek vasgekeer het om die geveg met 'n stewige hou in die Tanzaniër se maag te beëindig. Die skeidsregter het geen ander opsie gehad nie as om die geveg met 'n tegniese uitklophou aan Ambunda toe te ken.

• In die hoofvoorgeveg het Nathaniel Kakololo sy nasionale tussentydse veergewigtitel teen Matheus Kandala van Namibië oor 10 rondes verdedig.

In 'n geveg wat baie gelykop verloop het, het die tellinghouers oorwegend in die guns van die titelhouer beslis. Kandala was in geen stadium oorheers nie en kan trots op 'n uitstekende vertoning wees wat telkens die toeskouers op hul voete gehad het.

• In 'n ligswaargewig onderonsie tussen die 34-jarige breker Wilbeforce Shihepo (Black Mamba) en Anos Temfuna van Zambië wat die volle ses rondes geduur het, het die Namibiër elke ronde gewen om eenparig met punte te seëvier. Temfuma het 'n heldhaftige vertoning gelewer wat Shihepo ietwat onkant betrap het.

Die Black Mamba is ook een van die hoëprofiel boksers wat ná jare sy rug op die MTC Nestor Sunshine Boks­akademie keer in 'n strewe om meer gevegte te kry en nuwe lewe in 'n eens belowende loopbaan te blaas.



Ander uitslae

Al die boksers is van Namibië tensy anders aangedui.

Kapokgewig (4 rondes): Luben Kandimba klop Josef Matheus met 'n eenparige puntebeslissing.

Liggewig (4 rondes): Lazarus Shaningwa klop Festus Matias binne 1 minuute 37 sekondes in die eerste ronde met 'n uitklophou.

Ligswaargewig (6 rondes): Mujandjae Kasuto, 'n tweemalige Olimpiese bokser as amateur, maak 'n suksesvolle beroepsdebuut toe hy Nowell Mpofu van Zimbabwe binne 47 sekondes in die eerste ronde met 'n tegniese uitklophou verslaan.

Super kapokgewig (6 rondes): Jonas Mateus wen eenparig met punte teen Phillipus Nghitumbwa.

Junior middelgewig (8 rondes): Die uiters gewilde en ambisieuse Vakufilapo Nashivela, Namibië se eie Cowboy, benader die kryt op 'n perd se rug voor sy geveg teen die meer ervare Christian Ukelo.

Nashivela het vanaf die eerste ronde oorheers en wen sy geveg in 1 minuut 36 sekondes in die derde ronde met 'n tegniese uitklophou.

Middelgewig (6 rondes): Lukas Ndafoluma slaan Martin Tsuma van Zimbabwe twee keer in die eerste ronde plat en die skeidsregter sit die geveg stop, net 2 minute 47 sekondes ná die eerste klok.

Kommentaar

Republikein 2025-04-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer