Terug na Super14 in 2021?
Terug na Super14 in 2021?

Terug na Super14 in 2021?

Die Superrugby-reeks gaan blykbaar van 2021 weer uit net 14 spanne bestaan.
Volgens 'n berig in die Sydney Morning Herald is die Sunwolves die span in die spervuur met Australië, Nieu-Seeland en Suid-Afrika wat sukkel om konsensus te bereik oor 'n formaat van die toernooi wat almal sal pas.

Aanstaande jaar is die Sunwolves se vierde jaar in Superrugby. Hulle het in dié tyd net ses wed­stryde gewen en was vanjaar laaste op die algehele puntelys. Die span van Tokio loop die gevaar om uit die toernooi geboender te word tensy nog 'n Suid-Afrikaanse span hom soos die Cheetahs en die Kings by die Pro14-reeks aansluit.



rondomtalie

As daar weer net 14 spanne in die reeks is, sal dit 'n rondomtalie-struktuur toelaat, eerder as die omstrede konferensie-struktuur wat nou geld. Met die konferensie-struktuur speel sekere spanne nooit teen mekaar in 'n seisoen nie.

Die Jaguares van Argentinië het in 2016 saam met die Sunwolves aangesluit by Superrugby, maar anders as die span van Tokio, het hulle vordering getoon en die uitspeelrondes vanjaar gehaal nadat hulle sewende op die algehele puntelys geëindig het. As 'n volle lid van Sanzaar word Argentinië ook beskou as 'n integrale deel van die Rugbykampioen­skapsreeks, wat beteken hulle sal in Superrugby bly. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-06-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer