Terug in die saal
Terug in die saal

Terug in die saal

[email protected]
Yandi Du Plessis
Yandi du Plessis – Let wel, die stuk gaan nié oor perde nie.

Met die eerste aankondiging van die inperking vroeër vanjaar het ek my kosbare gym-lidmaatskap gekanselleer. My redenasie: ek gaan beslis nie geld verloor terwyl ek nié gewig verloor nie.

Oefening was in die verlede ’n belangrike deel van my daaglikse roetine en in die maande wat ek van die huis af moes werk, kon ek fisies voel hoe ek besig is om in ’n stoelpatat te verander.

Dit het my herinner aan my eerste jaar op universiteit, net met minder pienk wyn (danksy die drankverbod) en vroegoggend hamburger-specials. Tóé was my enigste oefening om klas toe en terug te stap. Terwyl ek van die huis af gewerk het, het ek net yskas toe gestap.

Ek dink almal ken die gevoel. Jy weet jy moet jou gat lig en iéts doen. Letterlik enige iets voor jou agterstewe begin voel soos ’n blok margarien wat te lank in die son gelê het. Maar hoe langer jy by die huis sit, hoe moeiliker raak dit om ’n toon by die deur uit te sit. En deur die dag is oefening die laaste ding waaraan jy dink.

Net in die aand as jy in die bed lê en dink oor al jou sondes, besef jy dis net jou kakebeen wat deur die dag aktief was.

Draf kan ek ongelukkig nie, want ek het die knie- en heupprobleme van ’n 75-jarige oupa. Ek het nie die toewyding om by ’n Crossfit-tipe groep aan te sluit nie, en ek gaan in elk geval beslis nie die deadlifts regkry met my macaroni-armpies nie. Ek het ’n paar keer probeer om YouTube-workouts te volg, maar ek was ook nie juis entoesiasties om op die kombuisvloer te (probeer) plank nie.

Ek maak nie verskonings nie. Ek was ten volle bewus daarvan dat ek chroniese luiheid ontwikkel het.

Toe ek ’n paar maande gelede by my ouers op die plaas gaan kuier het, het ek die briljante idee gehad om my ma se fiets te kaap en saam te bring. Eerlikwaar, ek was heeltemal van plan om elke dag ná werk ’n entjie te gaan ry. Nodeloos om te sê, dit het ook nie gebeur nie. Die fiets het ten minste ’n maand lank soos ’n wit olifant in die stoorkamer gestaan.

Die Engelse gesegde “it’s like riding a bike,” verwys na ’n vaardigheid wat jy nooit afleer nie. Toe ek egter ’n kopskuif gemaak het en op die saal geklim het, het ek besef dié gesegde is onakkuraat, in my geval. Die enigste fiets wat ek die afgelope drie jaar getrap het, was die een in die gym. Ek het minstens drie keer amper teer gevreet en ek is ten minste vyf keer amper raakgery. Maar ek het gery!

My bors het gebrand soos dié van iemand wat vyf pakkies per dag rook en ek het ’n week lank gesukkel om te sit, maar dit is ’n bevredigende soort pyn, as dit sin maak.

My idee om elke dag werk toe te ry, sal nie realiseer nie. As ek op die besige pad ry, gaan ek roadkill wees. Ek het my “oefenprogram” só aangepas dat ek laatmiddag oor naweke ry, wanneer daar geen karre op die pad is nie. Op geen manier is ek een van die mense in spandex wat in groepe op die Kupferberg-pad ry nie.

Ek beplan glad nie om enige tyd gou aan die Desert Dash deel te neem nie. Maar ten minste is my enigste oefening nie meer ’n uitstappie na die yskas nie.

Kommentaar

Republikein 2025-05-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer