Ter nagedagtenis aan Ingrid

Fietsry
Tielman van Lill
Tielman van Lill - Ongeveer 300 fietsryers het gisteroggend aan 'n fietsrit deelgeneem om die lewe van wyle me. Ingrid van Wyk Scholtz te vier wat op 15 November tragies op die westelike verbypad in 'n tref-en-trapongeluk gesterf het.

Die rit het onder begeleiding van Nampol by die Unam- en Kupferbergkruising begin. Ryers het tot by die Elisenheimbrug en weer terug na Unam gery, waar die botsing naby die kruising plaasgevind het.

Familie, vriende en medefietsryers wat Ingrid die afgelope jare as 'n vasbyter op haar fiets leer ken het, was gister gereed om 'n kruis vir Ingrid langs die pad te plant en te bid. 'n Boom is reeds deur die fietsryer Marion Schonecke, 'n vriendin van Ingrid, geplant waar die kruis sy staan gekry het. Dié twee sou komende Vrydag saam die 2019 Nedbank Desert Dash as 'n span aangepak het.

“Ek en Ingrid het vele probleme so ry-ry op ons fietse opgelos. Ek gaan haar ­ver­skriklik mis. Ingrid, jy is vir altyd in my gedagtes. In dinge wat ons doen en praat, sal jy lewendig gehou word. Die boom is daar om ons aan jou lewe te herinner. Eendag sal daar vir ons genoeg skaduwee onder dié boom wees, sodat ons by jou kan sit. Mis jou baie,” is hoe Schonecke vele mense se emosie opgesom het.

Van Wyk Scholtz is Saterdag in die Gammams-begraafplaas ter ruste gelê.

Kommentaar

Republikein 2025-05-09

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer