• Tuisblad
  • Sake
  • Teëls vlieg nie van die rakke af, maan Italtile
Teu00ebls vlieg nie van die rakke af, maan Italtile
Teu00ebls vlieg nie van die rakke af, maan Italtile

Teëls vlieg nie van die rakke af, maan Italtile

Huishoudings is pessimisties en het minder geld om te bestee aan huisverbeterings en opknappings, blyk uit die jongste handelsverslag van Italtile, wat teëls en badkamertoerusting verkoop.

Italtile se totale winkelverkope het in die vyf maande tot einde November met 5% gestyg, vergeleke met ’n jaar gelede. As vergelykende winkelsyfers egter gebruik word, het die verkope met net 2% gestyg.

Mense het minder besteebare geld, en die verbruikersentiment is pessimisties, sê Italtile, wat die teëlhandelaars CTM, TopT en U-Light besit en beherende belange in die teëlvervaardiger Ceramic Industries en die teëlsementverskaffer Ezee Tile Adhesive Manufacturers het.

Handelstoestande in van die groep se uitvoermarkte soos Zimbabwe en Zambië is ook swak, sê die groep in ’n Sens-nuusverklaring.

Teëlvoorraad hoop op by groothandelaars, en die vraag van kleinhandelwinkels vir teëls is ook oor die algemeen swakker, wat Ceramic Industries se verkope negatief raak.

Italtile se bestuur bly optimisties dat hy groei vir die volle boekjaar sal wys. Hy verwag dat die groei in die tweede halfjaar (Januarie tot Junie 2020) beter as in die eerste halfjaar tot einde Desember vanjaar sal wees.

Italtile se aandeelprys op die JSE was teen laat Woensdagoggend 1c laer op R14,10. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-05-07

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer