Teler vertel oor Arabierperdstoet
Tweede grootste private afrigtingsentrum in Namibië
Elvira Hattingh
Op ’n plaas buite Okahandja woon ’n superster. Hy heet Sidi Manakey.
Die 18-jarige Pools-Egiptiese Arabierhings, wat aan mnr. Leon Harmse van die Fareed Arabierperdstoet behoort, het al in rolprente soos Desert Doctor (2012) die rol van die prins se perd gespeel. Boonop spog hy met 12 nasionale kampioenskaptitels én is hy ’n gesogte teelhings. Op sy indrukwekkende CV is titels in die kategorieë vir “western pleasure”, “ranch riding”, “novice riding horse”, “ranch horse conformation”, mees klassieke kop vir ’n Arabierhings, en senior vrybewegingskampioen.
Vier van Sidi Manakey se vullens het reeds Afrika uithourit- en drie-nasie-uithouritkampioenskappe gewen, en twee ander is deur sjeiks na die Midde-Ooste vir uithouritte uitgevoer. Nóg twee het nasionale kampioenskappe op skoue gewen.
Dié veelseidige hings word ook gebruik om ’n koets te trek en kalwers met ’n lasso te vang wanneer hulle gebrandmerk moet word. Andersins keer hy bulle wat dubbeld sy gewig is by Namibiese rodeo’s aan.
“Ek kan nie ’n geldwaarde aan hom koppel nie. Van sy vullens is al vir bykans N$200 000 aan kopers uit die Midde-Ooste verkoop,” sê ’n trotse Harmse.
“Manakey is deur Jack Maritz op Upington in Suid-Afrika geteel, waarna die Cronje-familie van die El Sham-stoet hom ingevoer het om as uithourit-teelhings te gebruik. Hy is twee keer weer verkoop, voor hy by die Arabierperdteler Willem Bezuidenhout beland het. Ek het hom in 2009 by Bezuidenhout gekoop.” Harmse is die jongste lid op die Namibiese Arabierperdtelersraad en ook die jongste Arabierperdteler naby Okahandja, hoewel hy nie die enigste in dié omgewing is nie. Boonop het hy die tweede grootste private afrigtingsentrum vir perde in Namibië.
Harmse wys ook Fareed Antar, Sidi Manakey se seun. Hy roep sy perde op die naam en dan kom hulle, hondmak, na hom toe aangestap.
Een van die vullens in Harmse se stoet, Fareed Batal, hou groot belofte in en het reeds die korrekte konformasie om ’n spoggerige teelhings te word. Sy naam beteken “held”. Die meeste van Harmse se hingste se ouers is van Amerika ingevoer.
Harmse het reeds in 2003 sy eerste perd geteel en in 2007 is die Fareed Arabierperdstoet by die Namibiese Arabierperdtelersraad geregistreer. In 2011 het hy met perde-afrigtingsentrum Fareed Arabians & Training Center begin. Vandag het hy 44 Arabiere in sy stoet. ’n Verdere 36 perde wat tans in sy sorg is vir afrigting en teeldoeleindes, behoort aan kliënte.
“Die Namibiese Arabierperdtelersgenootskap is die grootste perdetelersvereniging in Namibië, met meer as 110 stoeterye en 1 400 geregistreerde Arabiere. ’n Verdere 300 is gedeeltelik geregistreer,”sê Harmse.
Boonop word Arabierperde nie gekeur voor hulle by die telersvereniging geregistreer word nie omdat dit die oudste perderas in die wêreld is. Om geregistreer te word, moet die teler se perde ’n DNS-toets ondergaan om seker te maak hulle is suiwer Arabiere en die korrekte voorgeslag word in die stamboom vertoon.
Harmse teel veelsydige perde wat onder meer kan werk, uithouritte ry en kan skou. Fareed beteken ook “uniek” of “enig in sy soort” in Arabies.
Harmse is ’n kenner op die gebied om perde vir uithouritte, skoue (vir halter- en ryklasse soos “western pleasure”, “ranch riding”, “reining”, “cutting” en “working cow horse”) af te rig en ook om jong perde mak te maak. Hy kan hulle ook leer om koetse te trek.
Harmse sê dit neem sowat twee maande om ’n perd “veilig” mak te kry, maar dit neem langer om hom vir skoudoeleindes af te rig of vir uithouritte te oefen.
Harmse was van kleins af versot op perde en het vanaf 10-jarige ouderdom uithouritte gery. Vir die doeleindes het hy self perde geteel en geleer – ook vir ander mense – en groot sukses behaal. Hy het die Namibiese swaargewig uithouritspan reeds twee keer by die Afrika Uithouritkampioenskappe verteenwoordig. Ná skool het hy by die Strydom Arabierperdstoet in Suid-Afrika gewerk, waarna hy naby Okahandja vir Bezuidenhout gaan werk het. Hy en Bezuidenhout het vandag nog ’n goeie werksverhouding.
Hy het in Amerika perde-boerdery deur middel van die landbou-uitruilprogramme CAEP studeer, wat die afrigting, wetenskap, sorg en teling van perde behels. Gedurende die tyd het hy indiensopleiding by die bekende Amerikaanse perdeafrigter Don Ulmer op die plaas Ranch of Cherry Creek/Gun Barrel Ranch in Suid-Dakota gekry. Dit het hom die geleentheid gegee om saam met die teler oral in Amerika te toer en te skou, voor hy voltyds met sy eie stoet en afrigtingssentrum in Namibië begin het.
Harmse sê die droogte raak perdetelers ook. “Ek kan nie soos in die geval van beesboere perde op ’n lorrie vir die slagpale laai nie. In die droogte gee ek maar bietjie meer voer, gras en sorg vir hulle, al beteken dit ek moet bietjie aan uitgawes sny,” lag hy.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie