Telecom: Klankopname oor skorsings lek uit

Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - Die waarnemende voorsitter van Telecom Namibia, me. Irene Simeon-Kurtz, het volgens ’n klankopname vóór die skorsing van twee van die drie senior bestuurders van dié staatsonderneming, aan vakbondlede gesê “een is weg en nóg twee moet gaan”.

Die klankopname is gemaak toe die direksie op 2 Oktober ’n vergadering met lede van die Namibië Staatsdienswerkersunie (Napwu) in Windhoek gehad het. Dit is deur ’n bron aan Republikein gestuur.

Simeon-Kurtz is in die opname aan die woord en sê: “Dit is waarom ons reeds teen een opgetree het en daar nog twee is wat gaan volg. Hulle frustreer ons. Dit is baie moeilik. Ons reken met hulle af (‘We are dealing with them’).”

Op 9 Oktober het Telecom Namibia bekend gemaak mnr. Robert Offner, hoof- finansiële beampte, is op 26 September voorlopig geskors en dat me. Jinah Buys, hoof van korporatiewe bestuur, regsdienste en regulatoriese sake, asook dr. Ben van der Merwe, hoof van interne oudit en risikobestuur, op 8 Oktober van dieselfde stappe teen hulle ingelig is.

Mnr. Armando Perny, waarnemende uitvoerende hoof, het in die verklaring gesê die skorsings is hangende ’n ondersoek na ’n vermeende vervalste kontrak van N$12 miljoen met die diensverskaffer Canocopy. Mnr. Theo Klein, Telecom se uitvoerende hoof, was in daardie stadium met menslikheidsverlof.

In ’n e-pos aan Simeon-Kurtz oor wat sy met dié woorde bedoel het, was haar antwoord: “Die skorsing van lede van die uitvoerende komitee word deur die uitvoerende hoof en nie deur die direksie gedoen nie.”

Buys se prokureur, me. Saima Nambinga, sê ’n brief wat op 24 Oktober aan Klein en die direksie gestuur is, haar kliënt se skorsing “is onwettig aangesien geen wettige of grondige redes daarvoor verskaf is nie”.

Sy haal die skorsingsbrief aan wat lui: “In opvolg van die direksie se besluit en ná deeglike oorweging van die rol wat die maatskappy se sekretariële en regsdienste in die Canocopy-aangeleentheid sou speel, word u hiermee met onmiddellike effek geskors”.

In ’n regsmening wat vóór die skorsings deur mnr. Norman Tjombe van die regsfirma Tjombe-Elago Inc. aan Klein voorgelê is, maan hy dat Telecom hom aan regstappe en eise blootstel aangesien daar volgens die inligting oor die gewraakte kontrak “nie meriete vir die skorsings bestaan nie”.

“Ons advies is dat eksterne ondersoeke, veral die ontleding deur handskrifdeskundiges, eers afgehandel word voordat enige stappe teen die werknemers oorweeg word,” lui sy aanbeveling.

Dit blyk verder uit Nambinga se brief dat Buys op 23 Februarie vanjaar ’n grief teen Simeon-Kurtz by Klein en die direksie ingedien het.

Daarin beskuldig Buys die direksie en spesifiek vir Simeon-Kurtz van viktimisering, onregverdige behandeling en inmenging in haar werk.

Sy voer aan dat Simeon-Kurtz by meer as een geleentheid “onregverdig, ongevraagde en neerhalende aanmerkings” oor haar as mens en oor haar werksetiek gemaak het.

“Me. Simeon-Kurtz het verder gedreig dat sy met ons kliënt sal afreken as sy nie ophou om dinge moeilik (‘hard and cast’) te maak toe sy advies oor ’n verkrygingsaangeleentheid moes verskaf nie.

“Sy het ook ’n direkte aanval en dreigemente aan ons kliënt gerig oor betalings aan die direksie, veral toe ons kliënt geweier het om af te teken op betalings vir raadsvergaderings wat buite die bepaling van verwysing val.”

Dit blyk verder die direksie het op 23 Maart tydens ’n raadsvergadering aangedui dat dié griewe deur Buys nie oorweeg sal word nie.

In reaksie op vrae hieroor aan Simeon-Kurtz, het sy gesê “wat by Telecom gebeur, is ’n interne aangeleentheid”, sonder om op beweringe van viktimisering te antwoord.

Klein wou ook nie by navraag kommentaar lewer nie.

Van der Merwe, Buys en Offner het gister gesê hulle is nie deur Telecom op hoogte gebring van die vordering met die ondersoek na die Canocopy-kontrak nie.

“Ek verstaan die ondersoek sou teen einde Oktober afgehandel gewees het, maar ek is nie daaroor ingelig nie,” het Offner gesê.

Kommentaar

Republikein 2025-05-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer