Teiken régte armes
Hoewel die regering se maatskaplike begrotingsbeleid armoede verlig, kan dit meer slaankrag hê as die regte mense daarby baat.
Jo-Maré Duddy - Sonder die kontant wat Namibiërs maandeliks as toelae van die regering ontvang, sou die getal armes in die land 45,8% méér gewees het.
Die regering se hulp in die vorm van water- en behuisingsubsidies, asook reusebesteding aan gesondheid en onderwys, beveg voorts armoede. Sonder dit én kontanttoelae saam sou die armoedesyfer 58,4% hoër gewees het.
Die regering se “mildelike” begrotingsbeleid het 118 000 mense uit armoede gelig en die koers van brandarmes met amper 25% verlaag, luidens 'n gesamentlike verslag van die Namibië Statistiekagentskap (NSA) en die Wêreldbank wat gister vrygestel is.
Nietemin bly armoede in die land hoog. Volgens die Wêreldbank moes 16,9% van die land se bevolking – ongeveer 385 441 mense – in 2015 op minder as US$1,90 of sowat N$24,30 per dag oorleef. Word die internasionale broodlyn van US$3,10 (sowat N$39,65) per dag gebruik, was 42,8% van Namibiërs in 2015 in armoede gedompel.
Die drievoudige uitdaging van armoede, ongelykheid en werkloosheid duur hardnekkig voort ondanks die groot somme staatsgeld waarmee dit bestry word, sê mnr. Paul Noumba Um, die Wêreldbank se verteenwoordiger in Namibië.
As sulks moet in diepte vasgestel word of die regering die beste van sy begrotingsbeleid vir die bekamping van armoede en ongelykheid gebruik maak, sê hy. Noudat die regering sy bestedingsrieme moet dun sny, is dit veral belangrik.
Die NSA/Wêreldbank-verslag heet gepas “Does Fiscal Policy Benefit the Poor and Reduce Inequality in Namibia?”.
Om dit te bepaal, is na die impak van direkte kontanttoelae gekyk, asook na indirekte subsidies vir watergeriewe op die platteland, die Build Together-behuisingsinisiatief en die program van die Nasionale Behuisingsonderneming (NHE).
Die uitwerking van gesubsidieerde gesondheid en onderwys is ook in ag geneem.
Die vernaamste swakplek van die regering se maatskaplike welsynprogramme – wat die afgelope 25 jaar byna die helfte van die begroting opgeslurp het – is dat dit nie geteiken is nie, aldus die verslag.
Pensioen
Bykans 17,2% van alle Namibiërs – ongeag hul finansiële vermoë – ontvang 'n staatspensioen. Uit die vyfde van Namibiërs wat die armste is, ontvang 22,2% 'n staatspensioen. Uit die vyfde wat die rykste is, ontvang 6,8% egter dieselfde bedrag. Dieselfde geld vir toelae vir wees- en weerlose kinders. Sowat 6,6% van die armste segment word geraak, maar ook ongeveer 2,6% van die rykste.
Met indirekte subsidies verlig net watervoorsiening op die platteland armes se lot wesenlik. Die Built Together (BTP)- en NHE-programme is hoofsaaklik op stedelike gebiede van toepassing. 'n Skrale een persent van die armste van arm huishoudings trek voordeel uit die BTP, terwyl niemand in dié groep by die NHE baat nie, lui die verslag.
Die impak van primêre staatskole is “absoluut progressief en pro-armes”, bevind die verslag. Op sekondêre skoolvlak is die uitwerking egter minder en op tersiêre vlak bykans niks. Die 70% van die bevolking wat die armste is, “ontvang” net 10% van die begrotingsgeld wat hiervoor opsy gesit is.
Teiken
Begunstigdes van regeringstoelae en –subsidies word “losweg” geteiken. Gevolglik word minder as die helfte van dié uitgawes vir die werklike bestryding van armoede gebruik. Om armoede doeltreffend te takel, is 'n goeie teikenstelsel (“proxy means tested” of PMT) noodsaaklik wat armes identifiseer en geld na hulle kanaliseer, sê die verslag.
Om PMT's te bedryf, is egter ingewikkeld, vereis 'n beduidende belegging én institusionele kapasiteit, aldus die verslag.
Die NSA se statistikus-generaal, mnr. Alex Shimuafeni, het tydens die bekendstelling van die verslag gesê dis duidelik dat die doeltreffendheid en dekking van maatskaplike veiligheidsnette verbeter kan word om meer mense te bereik. “Nou vra ons onsself: Waarheen nou?” het hy gesê.
* Lees ook 'n volledige uiteensetting van die verslag in Business7, wat vandag in Republikein verskyn.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie