Teenkorrupsie-strategie onder die loep
Die ACC het ’n slypskool gehou waartydens die bevindinge van die nasionale teenkorrupsie-strategie se evaluasie deur belangegroepe bekragtig moet word.
Elvira Hattingh - Van die sowat 75 take in die nasionale teenkorrupsie-strategie (NACS) vanaf 2016 tot 2019, is daar reeds begin om 69 ten uitvoer te bring.
Net sowat 15 (20%) van dié take is heeltemal voltooi, terwyl daar nagelaat is om met sowat ses daarvan te begin.
Me. Christine Liswaniso, die NACS-sekretariaat, het Woensdag dié inligting tydens ’n slypskool bekend gemaak waarin die bevindinge van die NACS se evaluasie deur verskeie belangegroepe bekragtig moet word.
Sy het beklemtoon dat die toepassing van baie van die opdragte nie ’n eenmalige proses is nie, maar eerder oor die langer termyn voortduur.
“Uit 22 betrokke instansies, het minstens 15 hul opdragte toegepas of verslag op hul vordering gegee. Dit sluit in die Teenkorrupsiekommissie (ACC), die Verkiesingskommissie van Namibië (ECN), die Finansiële Intelligensiesentrum (FIC), die kantore van die ombudsman en die eerste minister.
“Terugvoering is ook van onder meer die ministeries van finansies, justisie, myne en energie (diamantsake), visserye en mariene hulpbronne, staatsondernemings en nywerheidsontwikkeling en handel ontvang,” het Liswaniso gesê.
Mnr. Paulus Noa, direkteur van die ACC, het tydens die geleentheid verduidelik dat die doel van die evaluasie was om vas te stel of strategiese doelwitte bereik is. Hy het gesê sodra die evaluasie deur die slypskool ondersoek en bekragtig word, sal dit as inset dien vir die formulering van die NACS vir die tydperk 2021 tot 2025.
BURGERLIKE INKOOP
Mnr. Graham Hopwood, die uitvoerende direkteur van die Instituut vir Openbare Beleidsnavorsing (IPPR), het egter beklemtoon geen teenkorrupsie-plan kan suksesvol wees sonder dat die burgerlike samelewing daarby inkoop en betrokke is nie.
“Daar moet openbare eienaarskap van so ’n plan of strategie geneem word. Daarsonder kan dit irrelevant of ’n bron van frustrasie raak – veral as mense onder die indruk is dat niks, of nie veel daaraan gedoen word nie.”
Hy het die onlangse protesoptogte teen seksuele en geslagsgeweld (SGBV) as ’n voorbeeld hiervan genoem en bygevoeg korrupsie kan nog só ’n moontlike bron van frustrasie vir landsburgers raak.
Hy het gesê terwyl die ACC tans fokus op die ondersoek van korrupsie, het hy ook ’n verpligting om dit te probeer voorkom, “want voorkoming is goedkoper as genesing.”
Hy meen voorkoming sluit in dat die wet op toegang tot inligting binnekort deur die parlement goedgekeur sal word. Hy het kommer uitgespreek omdat die wet op hokaairoepers, wat reeds deur die parlement goedgekeur is, nog nie geïmplementeer is nie.
Die minister in die presidensie, me. Christine //Hoebes, wat die geleentheid amptelik geopen het, meen die NACS is ’n bewys van Namibië se toewyding daartoe om maatreëls teen korrupsie en goeie staatsbestuur te bevorder.
“Dié evaluering kom op ’n geskikte tyd, aangesien Namibië voor 'n aantal uitdagings staan – wat insluit swak vertroue in openbare instansies en swak dienslewering.”
Só het me. Alka Bhatia, 'n verteenwoordiger van die Verenigde Nasies (VN) se Ontwikkelingsprogram (UNDP) in Namibië, gesê. Volgens haar ondermyn korrupsie ontwikkeling deur ongelykheid te bevorder.
“Dit ondermyn ook mense se vertroue in openbare instellings, wat op die beurt weer die vermoë en legitimiteit van die staat en die oppergesag van die reg belemmer.
“Namibië het ’n benydenswaardige rekord vir vrede en ’n demokratiese regering en tel onder die bestes op die Mo Ibrahim-indeks. Daar is egter ruimte om deursigtigheid te verbeter. Dit is waar die nasionale strategie en aksieplan vir korrupsie ’n belangrike rol speel,” het sy gesê.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie