Tee word dalk skaarser weens hitte, droogte

Klimaatverandering het meegebring dat die produksie van tee afgeneem het.
Volgens navorsing kan droogte of uitermate hoë temperature die tee-opbrengs in dele van Asië met tot 55% laat afneem, skryf Chungui Lu, ’n professor in volhoubare landbou aan die Nottingham Trent-Universiteit in Brittanje, in ’n artikel wat in samewerking met Quartz op die webblad van die Wêreld- Ekonomiese Forum gepubliseer is.

China is die grootste teeprodusent ter wêreld en het volgens Statista.com sowat 2,35 miljoen ton in 2016 geproduseer. In 2014 is meer as 5,56 miljoen ton tee wêreldwyd kommersieel verbou.

In 2015 het die Verenigde Nasies se voedsel-en-landbou-organisasie in ’n verslag gesê klimaatsverandering bedreig die ideale toestande vir die verbouing van tee. Die verbruik van swart tee sal teen ’n verwagte 3% per jaar tot 4,14 miljoen ton in 2023 groei.

Lu sê navorsing deur die Kunming- botaniese instituut in China kan die uitwerking van klimaatsverandering op teeverbouing beperk.

’n Stelsel is ontwerp om alle genetiese inligting oor tee te onttrek en nuwe variëteite te ontwikkel wat beter bestand is teen omgewingsverandering en siektes, en ook beter geur en gehalte het. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2026-03-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer