Tee gekonfiskeer wat Covid-19 'keer'

Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Die kruietee bekend as 2020-nCOV wat as ’n voorkoming van en voorskrif vir Covid-19 voorgehou word, is ’n “natuurlike, oorspronklike gekonsentreerde kruietee” met natuurlike kruie.

So sê dr. Jia Fusheng van Chinese Natural Herb and Health oor die teeproduk waarvan etlike pakkies gister in Kuisebmond in Walvisbaai by ’n Chinese winkel in die woonbuurt, ’n huis in die hawedorp en ook by ’n besigheid gekonfiskeer is.

Dit volg ná ’n wenk dat onwettige tee wat glo Covid-19 voorkom hier vir N$400 aan plaaslike inwoners verkoop word.

Volgens Fusheng het die verwarring oor die doel van die tee uit die vertaling uit Chinees na Engels ontstaan. Op die verseëlde pakkie waarin die sakkies is, word dit in Engels as “prevention, prescription” voorgehou met die opdrag om “een sakkie op ’n slag, een keer per dag” te gebruik. Warm water moet gebruik word.
Fusheng sê die tee is nie ’n voorkomende middel teen Covid-19 nie en daar word ook nie aanspraak gemaak dat dit die siekte genees nie.
Volgens hom is dit tee wat mense se immuniteit verbeter sodat hulle weerstand teen die siekte kan bied. Hy het ontken van die sakkies is kus toe na die episentrum van die siekte aan die kus gestuur om aan inwoners verkoop te word.

‘NIE VIR EIE GEWIN’
Fusheng sê dit was bloot vir Chinese inwoners hier om dit self te gebruik en nie te verkoop nie.
Fusheng het Republikein verlede week besoek om lesers bewus te maak van die produk en te sê die tee is in Namibië as voorkomende maatreël beskikbaar. Enkele ure nadat die polisie in Walvisbaai sakkies van die tee gekonfiskeer het, was hy weer by ons kantoor om sy saak te stel. Fusheng sê hy het ’n permit om dit na Namibië in te voer.
Volgens die hoof van misdaadondersoeke in die Erongostreek, adj.komm. Erastus Ikuyu, het die winkeleienaar ontken dat hy die tee aan enige inwoner verkoop het, maar het wel erken Chinese inwoners gebruik die tee as ’n “normale tee” om hul immuniteit teen Covid-19 te verbeter.
Die polisie het 15 pakkies met 2020-nCov-teesakkies by die winkel, sewe by ’n huis in Walvisbaai en vier by ’n besigheid in die nywerheidsgebied op die hawedorp gekonfiskeer.
Die gekonfiskeerde tee sal na die polisie se instituut vir forensiese wetenskap gestuur word om te bepaal of dit enige onwettige, verbode of skadelike middels bevat. Die ondersoek sal ook bepaal of die tee deur die regte kanale na Namibië ingevoer is.
[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-07-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer