Te min isolasie, suurstof vir Walvis se episentrum
Te min isolasie, suurstof vir Walvis se episentrum

Te min isolasie, suurstof vir Walvis se episentrum

Teen einde Augustus kan Walvisbaai na beraming byna 5 000 beddens vir isolasie nodig hê.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Walvisbaai, Hentiesbaai en Swakopmund het nie genoeg isolasie- en kwarantyngeriewe om die toenemende stygende aantal positiewe Covid-19-gevalle en -kontakte te isoleer nie. Walvisbaai is tans die land se episentrum van die pandemie.

“Nóg kwarantyn, nóg isolasie werk nou,” sê mnr. Anton Pretorius, direkteur van Namdock en lid van Erongo Region Corona Care (ERCC).

Die verslag wat Pretorius onder andere aan die ministerie van gesondheid voorgelê het, voorspel dat die aantal bevestigde gevalle in Walvisbaai teen die einde van vandeesmaand meer as 2 200 sal bereik.

Die beramings is gebaseer op die bevolkingsdigtheid van Kuisebmond met 5 000 inwoners per vierkante kilometer.

Hiermee saam word die omstandighede in die Twaloloka-nedersetting in ag geneem wat volgens die verslag “erger as 'n passassierskip of 'n gebou met verskeie verdiepings” is. In dié oorbevolkte woonbuurt word toiletgeriewe gedeel, lopende water is nie beskikbaar nie en inwoners maak van kommunale vervoer gebruik.

Volgens Pretorius se “baie konserwatiewe skatting” sal Walvisbaai se gevalle teen einde Augustus die 6 000-kerf verbygesteek het. Hierdie eksponensiële groei in gevalle het sedert 26 Junie weens gemeenskaps­oordrag begin plaasvind.

Met verwysing na die isolasie van positiewe gevalle sê Pretorius 'n maksimum van 500 beddens is beskikbaar, met van die gevalle wat “in die gemeenskap” is, omdat daar nie vir hulle plek beskikbaar is nie. Met geen isolasiebeddens wat beskikbaar is nie, gaan positiewe gevalle weer “daagliks” in die gemeenskap opbou.

'n Opsie is om alle kwarantyngevalle te ontslaan en die beddens eerder vir isolasie te gebruik. Beraam teen die beskikbare 500 beddens en huidige gevalle sal teen einde Augustus 4 500 beddens vir isolasie nodig wees.

Pretorius maan die protokol vir twee negatiewe toetse voordat 'n persoon uit kwarantyn kan kom, moet verander word.

Volgens riglyne van die Wêreldge­sondheidsorganisasie (WHO) wat reeds in Mei verander is, kan 'n persoon uit kwarantyn gaan 10 dae ná die aanvang van simptome, of dan 13 dae in isolasie sonder om weer getoets te word as hy/sy gesond is.

Met verwysing na onkoste betrokke in die isolering van gevalle beraam Pretorius 'n uitgawe van N$30 miljoen vir twee maande vir beddens, matrasse, toilette en storte. Etes teen N$6 000 per persoon vir dieselfde tydperk word op N$133 miljoen beraam en die huur van tente en geriewe N$3 miljoen en meer.

“Waar is die plek hiervoor?” vra Pretorius.

“Om die bogenoemde geriewe teen 'n toenemend stygende pas weens die eksponensiële groei te skep, is nie lewensvatbaar nie. Geriewe verg tyd om te skep en beddens en matrasse moet gesoek en vervaardig word,” het hy gesê.

Hy beklemtoon die geweldige finansiële implikasie wat dit inhou. Hy verwys na oorgangsale wat eerder geskep word waar mense met simptome gehou word om te kyk hoe ernstig siek hulle is. Die fokus val dan volgens hom eerder op dié wat siek is.

Volgens Pretorius het die WHO riglyne vir selfisolasie en kwarantyn. Inwoners wie se geriewe nie in lyn hiermee geskik is nie, kan volgens hom uit die gemeenskap ontruim word.

“Dit is eintlik eenvoudig – isoleer vir 10, 15 of 20 dae.” Volgens hom bereik simptome tussen dag 4 en 6 'n hoogtepunt.

Met verwysing na pasiënte wat hoëvloei-suurstof (high flow oxygen) nodig het, stel Pretorius voor hulle word eerder gehuisves in isola­siegeriewe wat tans gebruik word deur mense wat nie werklik siek is nie.

Twee weke ná die styging in gevalle begin al hoe meer positiewe gevalle simptome wys en suurstof word volgens hom al hoe meer nodig vir gevalle wat van matig tot ernstig oorgaan.

Volgens Pretorius het die ECC eiendom op Walvisbaai wat met hospitaalbeddens toegerus kan word en wat reeds afsonderlik in afdelings vir mans en vroue omskep is. Afhangend van die uitleg kan dit 275 beddens vir isolasie of 225 beddens vir hospitalisasie huisves.

Die begroting vir die beddens, ablusiegeriewe en afskortings word beraam op N$2 miljoen vir 225 beddens, terwyl die installering van suurstof by elke bed op N$3 miljoen geskat word.

Die geriewe kan volgens hom vir isolasie gebruik word as 'n tydelike reëling afhangend van die styging in ernstige gevalle.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer