Taxidrywers ruk op

Verouderde wetgewing oor die taxibedryf veroorsaak onrus.
Augetto Graig
Augetto Graig - Taxidrywers se beplande optog gister na Staatshuis het by die Agostinho Neto-park by Ausspannplatz in Windhoek tot 'n einde gekom.

Die Namibië Vervoer- en Taxivakbond (NTTU) se leier, mnr. Werner Januarie, was voor tussen die meer as honderd taxidrywers wat van Evelinestraat in Katutura tot verby die ministerie van werke en vervoer se hoofkantore gemars het.

Die vreedsame optog was van die begin af deur die Namibiese polisie vergesel. Die groep, wat omstreeks 10:00 weggetrek het, het op die middaguur voor die standbeeld van Neto bymekaargekom.

Januarie het 'n klagskrif voorgelees waarin die vakbond eis dat boetes vir die oortreding van padreëls geskrap word, taxidrywers vrygelaat word wat in die verband in hegtenis geneem is, en die verouderde Wet 74 van 1977 herroep word. Hulle dring aan op die toepassing van 'n nuwe beleid wat maatskaplike dekking en beter arbeidsbeskerming insluit.

Werner sê die persoonlike verantwoordelikheid vir verkeersboetes wat op taxidrywers afgedwing word, is 'n oortreding van die arbeidswet.

Volgens hom het die regering dit reeds in sy 2016-witskrif oor vervoerbeleid in Namibië erken: Die wetgewing is verouderd en word verkeerd toegepas. “Let wel, eienaars van taxi's ontvang permitte vir hul bedrywe, wat beteken dit is 'n besigheid. Dit kan dus nie net ingevolge die wet op padverkeer en vervoer benader word sonder om ander wette soos arbeidsregulasies in ag te neem nie,” sê hy.

Hy het ongelukslagoffers aangemoedig om die regering direk te dagvaar weens die toepassing van ongepaste wetgewing waar taxi's betrokke is.

Die vakbondleier sê hy veg al 15 jaar vir die wysiging van die wet. “Ons het sewe jaar gelede die parlement versoek en ons het al talle kere betoog, maar dit was als tevergeefs. Ek wil die spoedige toepassing van nuwe vervoerregulasies sien.”

Werner het tussendeur gereeld na die staatshoof, president Hage Geingob, gekap: “Jy het nie die mag wat jy dink jy het nie.

“In werklikheid lê die mag by die massas van die land, wat in die meeste gevalle haweloos gelaat word, sterwend van die honger, gedwing om in armoede te lewe, weens jou korrupte regering se onbevoegdheid om regeringsake te hanteer. Julle moet almal leer om ons landsburgers te respekteer,” het hy gesê.

Volgens Werner is hy deur die polisie geïntimideer en selfs opdrag gegee om verskoning te vra vir vorige stellings wat hy aan Geingob gemaak het, voor enige vergadering kon plaasvind. Volgens hom het hy reeds verskeie kere vir die president geskryf oor sy lede se ergernisse.

“Jy verdien nie 'n verskoning nie. Dit is eerder die Namibiese volk wat 'n verskoning van julle almal verdien, vir hul swaarkry weens jul swak bestuur en slegte besluite as regering,” het Januarie gesê.

Hy het aangedring dat binne 14 dae op hul eise gereageer word en teen 13 Augustus hul griewe amptelike aangespreek word.

Die klagskrif en ander verwante dokumente is aan die uitvoerende direkteur van werke en vervoer, mnr. Willem Goeiemann, en uitvoerende direkteur van veiligheid en sekuriteit, me. Trephine P. Kamati, oorhandig. Hulle het nie daarop kommentaar gelewer nie.

Die Namibiese polisie se bevelvoerder in die Khomasstreek, kommissaris Joseph Shikongo, was te alle tye in beheer van die verrigtinge en het die deelnemers vir die vreedsame geleentheid bedank.

“Julle het gepraat en jul griewe gelig.

“Laat die regering se verteenwoordigers nou na hul kantore terugkeer om te gaan rapporteer.”

Shilongo het gesê hy is wel ontevrede oor 'n paar taxidrywers wat na Staatshuis gery het en op die vlug geslaan het toe polisiebamptes hul genader het. Twee het hul voertuie agtergelaat en dit is weggesleep.

Die kommissaris het ook gesê hy was nie beïndruk met die “minagtende aanmerkings” wat tydens die geleentheid gemaak is nie, en burgers aangemoedig om hul emosies te beheer, veral gedurende 'n optog.

Kommentaar

Republikein 2025-05-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer