Taks: Die syfers tot Pravin se beskikking

Met groot uitdagings in die ekonomie sal die Suid-Afrikaanse minister van finansies, Pravin Gordhan, vandag wanneer hy die land se nasionale begroting in die parlement in Kaapstad ter tafel lê, sy storie moet ken om sy land se boeke te laat klop.
Estelle de Bruyn
Die Suid-Afrikaanse regering moet meer belasting insamel om sy boeke te laat klop, maar Pravin Gordhan, minister van finansies, se keuses tot sy beskikking hiervoor word deur lae ekonomiese groei bemoeilik.

Siphamandla Mkhwanazi, ekonoom van Standard Bank, kyk na hoe Woensdag se begrotingsrede Suid-Afrikaners se sakke kan raak:

Verhoging in BTW-koers raak lae-inkomsteverdieners meer

’n Verhoging in die standaardkoers van BTW, tans 14%, beteken ’n toename in die lewenskoste, of afname in koopkrag, van alle verbruikers. Die effek daarvan is egter tot groter mate nadelig vir huishoudings wat minder verdien.

Data van die buro vir marknavorsing (BMR) wys dat huishoudings wat minder as R89 000 per jaar verdien, tussen 36% en 42% van hul inkomste aan kos en drinkgoed bestee. ’n Styging in BTW gaan hulle dus meer raak as huishoudings wat ’n kleiner gedeelte van hul inkomste daaraan bestee.

Blokkruiping gaan middelinkomsteverdieners die meeste raak

Die groei in die bruto binnelandse produk (BBP) oor die volgende drie jaar gaan na verwagting struktureel onder potensiaal bly en dit is onwaarskynlik dat genoeg nuwe werkgeleenthede geskep gaan word om die belastingbasis te vergroot.

Groei in persoonlike inkomstebelasting kan net bereik word deur hoër belastingkoerse en/of blokkruiping –

ekstra geld kan ingesamel word met persoonlike inkomstebelasting deur nie die kerwe van persoonlike inkomstebelasting vir inflasie aan te pas nie.

Blokkruiping gaan egter die middelinkomsteverdieners die meeste raak, dus mense wat tussen R89 000 en R707 000 per jaar verdien. Dit is omdat dié belastingbetalers meer staatmaak op salarisse en lone as hul primêre bron van inkomste, vergeleke met mense wat minder verdien of die ryker belastingbetalers.

Maatskappybelasting sal voordeel trek uit hoër kommoditeitspryse

Maatskappybelasting se bydrae tot totale belastinginkomste het in onlangse jare gedaal weens die verlangsaming in die ekonomie en daling in kommoditeitspryse.

’n Toename in die belastingkoers van maatskappye word egter as teenproduktief beskou. Suid-Afrika het die drempel bereik waarbo bykomende verhogings in die belastingkoers vir maatskappye waarskynlik ’n negatiewe uitwerking gaan hê op die belastinginkomste wat ingesamel sal word.

Die verbetering in kommoditeitspryse het die verdienste van maatskappye in die mynbedryf ’n hupstoot gegee en insameling van maatskappybelasting in die laaste paar maande was beter as verwag.

Kommoditeitspryse gaan naby aan huidige vlakke bly in 2017 en dit sal ’n positiewe uitwerking hê op inkomste uit maatskappybelasting in die fiskale jare vir 2017-’18 en 2018-’19.

Inkomstegaping raak kleiner, hoewel steeds groot

Suid-Afrika het steeds een van die hoogste vlakke van inkomste-ongelykheid ter wêreld, hoewel die regering se fiskale beleid effens gevorder het om dit te verklein.

Sowat 17 miljoen Suid-Afrikaners ontvang tans ’n maatskaplike toelae en sowat 24% van huishoudings maak daarop staat as hul primêre bron van inkomste.

Na raming het die verhouding van die gemiddelde inkomste in die laagste inkomstegroep (R0 – R20 500 per jaar) tot die gemiddelde inkomste van die hoogste inkomstegroep (R2 414 001+ per jaar) met sowat 43% afgeneem, van 1:8086 in 2011 tot 1:4578 in 2016.

Dit beteken vir elke R1 wat ’n individu in die laagste inkomstegroep in 2011 verdien het, het ’n individu in die boonste groep R8 086 verdien. Dit het afgeneem tot R4 578 vir elke R1 in 2016.

Kommentaar

Republikein 2025-06-08

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer