Swendelaar teiken Tsumkwe
Swendelaar teiken Tsumkwe

Swendelaar teiken Tsumkwe

Ester Kamati
Ester Kamati op Otjiwarongo – Verskeie gemeenskapslede van die Tsumkwe-kiesafdeling was verlede maand die slagoffer van 'n skelm wat homself as konstabel Martin Hausiku, met die selfoonnommer 081 329 7581, voorgedoen het.

Luidens 'n verklaring van die woordvoerder van die Namibiese polisie in die Otjozondjupastreek, insp. Maureen Mbeha, het lede van die gemeenskap wat sake by die Namibiese polisie aanhangig gemaak het, gesê die man het hom as 'n privaat speurder voorgedoen.

Die swendelaar het voorgegee hy is 'n besorgde lid van die gemeen­skap wat inligting inwin met betrekking tot sake wat by die polisie aangemeld is. Daarna het hy die betrokke mense onder die voorwendsel van 'n privaat speurder gekontak en die inligting gebruik om hulle te oorreed om hul bankbesonderhede te verstrek.

Sodra hy die bankbesonderhede ontvang het, het hy 'n onbekende toep gebruik en geld uit dié rekeninge getrek.

Die slenterslag het 'n 57-jarige man van Grootfontein op 17 Julie sowat N$5 300 gekos, terwyl 'n ander vrou N$200 verloor het.

'n Polisiebeampte van die aanklagkantoor op Grootfontein het erken dat hy 'n oproep van 'n individu wat hom as Martin Joseph Nekundi voorgestel het, beantwoord het onder die voorwendsel dat hy 'n polisie-inspekteur van Otjiwarongo was. Die beampte het vir hom inligting oor 'n saak verskaf en kort daarna is die 57-jarige man ingeloop.

Die swendelaar die nommer 081 121 3732 aan die beampte verskaf, maar dit kon ná die oproep nie bereik word nie.



'WEES WAAKSAAM'

Die Namibiese polisie het die publiek gewaarsku hulle betrek nie derde partye by ondersoeke nie en het die publiek versoek om waaksaam te wees.

“Lede van die publiek word versoek om sulke telefoniese instruksies te ignoreer, want dit is slegs misdadigers wat hulle wil bedrieg.”

In die verklaring word verder beklemtoon dat indien 'n lid van die gemeenskap 'n saak aanhangig gemaak het, die polisie die klaer sal besoek by die adres wat in die verklaring verstrek word of hulle sal versoek om by die polisiekantoor aan te meld vir verdere verklarings.

Mbeha het die publiek aangeraai om die polisiebevelvoerder in hul omgewing te kontak as hulle enige verdagte kommunikasie ontvang en om nie verdagte oproepe of SMS'e te antwoord nie.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer