Swede: Trump probeer nou vure doodslaan
Swede: Trump probeer nou vure doodslaan

Swede: Trump probeer nou vure doodslaan

Die Amerikaanse president het die afgelope naweek weer eens met eier op die gesig gesit ná 'n valse uitlating.
Ronelle Rademeyer
Nadat pres. Donald Trump van Amerika verkeerdelik tydens 'n toespraak in Florida geskimp het dat daar 'n terroristeaanval in Swede plaasgevind het, het hy geskerm dat sy uitlating gegrond was op 'n nuusberig op televisie.

Trump het in 'n toespraak Saterdag gesê Swede het ernstige uitdagings wat immigrante­ betref. Sedert Trump die Withuis in Januarie betree het, probeer hy Amerika se grense strenger beheer met nasionale­ veiligheid as dryfveer.

“Kyk wat het gisteraand in Swede gebeur,” het Trump tydens die byeenkoms gesê, en bygevoeg: “Swede. Wie sal dit kan glo? Swede. Hulle het groot getalle (immigrante­) ingeneem. Hulle het probleme soos wat hulle nooit gedink het moontlik sou wees nie.”

Tog was daar geen voorval in Swede nie en die land se regering het die Amerikaanse departement van buitelandse sake gevra om te verduidelik.

“My stelling oor wat in Swede gebeur het verwys na 'n berig op @FoxNews oor immigrante­ en Swede,” het Trump Sondag getwiet.

Fox News, die Amerikaanse nuuskanaal wat in Trump se goeie boeke is, het Vrydag 'n verslag uitgesaai oor beweerde immigrante-verwante misdaadprobleme in Swede.

'n Withuis-woordvoerder het Sondag gesê Trump het verwys na 'n algemene styging in misdaadsyfers en nie 'n spesifieke voorval in die Skandinawiese land nie.

Volgens amptelike statistieke daal Swede se misdaadsyfer sedert 2005, ten spyte daarvan dat duisende immigrante­ uit oorloggeteisterde lande soos Sirië en Irak 'n tuiste daar gevind het.

Swede se ambassade in Amerika het Trump se twiet oor Fox ook getwiet en gesê: “Ons sien daarna uit om die Trump-administrasie oor Swede se immigrasie en integrasie beleide in te lig.”

Trump is reeds wyd gekritiseer oor stellings wat hy maak wat geen gronde het nie, soos dat daar drie miljoen onwettige immigrante in Amerika woon.

Margot Wallstrom, Swede se minister van buitelandse sake, het gereageer deur 'n deel van een van haar toesprake op Twitter aan te haal waar sy sê demokrasie en diplomasie “vereis dat ons wetenskap, feite en die media respekteer”.

Haar voorganger was nie so diplomaties nie.

“Swede? Terreuraanval? Wat het hy gerook?,” het Carl Bildt, die voormalige minister van buitelandse sake, op Twitter gesê.

-Netwerk24/Reuters

Kommentaar

Republikein 2026-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer