SWD met meer ervaring getakel
SWD met meer ervaring getakel

SWD met meer ervaring getakel

Rugby
Andrew Poolman
Andrew Poolman - Met die periode vir toetsrugby verstreke, sal afrigter John Williams verlig wees om vir ’n slag weer ’n sterker span Windhoek Draught Welwitschias beskikbaar te hê vir môremiddag se wegwedstryd teen die SWD Arende op George se Outeniquapark (afskoptyd om 16:00 Namibiese tyd).
Die insluiting van verskeie spelers met Wêreldbeker- en Afrikabeker-ondervinding is ’n tydige inspuiting vir die Namibiërs se aanslag op die eerste liga van die Curriebeker.
Die 24-jarige vaskopstut AJ de Klerk word reeds die vyfde kaptein dié seisoen aan wie die leisels van die plaaslike amateurspan gegee word.
Die bedrewenheid van ’n meer ervare agterlyn behoort grootliks te help om die swak verdediging te beperk wat tot dusver tot sulke lelike verloortellings in die kwalifiserende kompetisie gelei het.
Die einste Arende het byvoorbeeld die Windhoek-wedstryd met 96-5 oordonder.
Die terugkeer van Chrysander Botha, Eugene Jantjies (al is dit op losskakel), Darryl de la Harpe en Heinrich Smit behoort rigting aan die agterlyn te gee.
Voorlangs is ses spelers in die beginspan bygevoeg wat in die pas afgelope Afrikabeker-reeks teen Uganda, Kenia en Zimbabwe speelkans gekry het. Die enigste uitsonderings is die twee flanke, Zayne Groenewaldt en Morné Blom.
Uit die nasionale toetsgroep was ’n paar staatmakers egter nie vir komende naweek steeds beskikbaar nie. Die flank Rohan Kitshoff, heelagter Justin Nel en vleuel Malcolm Moore is vanweë werkverpligtinge nie beskikbaar nie, terwyl die flank Tinus du Plessis en vleuel Russell van Wyk beseer is.
Die Windhoek Draught Welwitschias:
15 Chrysander Botha
14 Philip Nashikaku
13 Heinrich Smith
12 Darryl de la Harpe
11 Gino Wilson
10 Eugene Jantjies
9 Cameron Klassen
8 Leneve Damens
7 Morné Blom
6 Zayne Groenewaldt
5 Ruan Ludick
4 Muniovito Kasiringua
3 A.J. de Klerk (kapt)
2 Gerhard Lötter
1 Casper Viviers
Reserwes: Shaun du Preez, Quintin Esterhuizen, Denzil van Wyk, Johann Wohler, Nandivatu Karuuombe, Leslie Klim, Mahco Prinsloo.


JC GREYLING OOK WEG
Nie net heelagter Johann Tromp nie, maar ook die buitesenter JC Greyling het kontrakte aanvaar om vir die volgende drie maande vir die Oostelike Provinsie Kings te speel.
Die Oos-Kapenaars ding in die premierliga van die Curriebeker mee. Met dié unie se Superrugby-status is die hoër vlak van kompetisie vir die twee Namibiërs waarskynlik ’n goeie skuif in hierdie stadium van hul loopbaan.
Uit die geledere van die Namibië Rugby-unie word verneem dat die proses om sy rugby-akademie amptelik te registreer, reeds bykans afgehandel is. Dié registrasie is ’n belangrike tree vorentoe sodat plaaslike spelers behoorlik gekontrakteer kan word – eerder as die bestaande tradisie dat Namibië die teelaarde is waar ryker unies kan kom kies en keur. Ten minste behoort Namibië dan binnekort ook geldelike voordeel te trek wanneer sy spelers na groener weivelde gelok word.

Kommentaar

Republikein 2025-12-06

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer