Swartbooi: LPM is almal se party

Die LPM het Sondag sy laaste byeenkoms voor die verkiesing op Keetmanshoop gehou.
Elizabeth Joseph
Elizabeth Joseph op Keetmanshoop – Die Landless People's Movement (LPM) het sy verkiesingsveldtog afgesluit voordat Namibiërs hul kruisies op 25 November gaan trek.

Die LPM-leier, mnr. Bernadus Swartbooi, en sy afvaardiging van kiesafdeling-leiers het Sondag by die J. Stefanus-stadion op Keetmanshoop byeengekom waar inwoners in stewige getalle opgeruk het om na die politieke leier se toespraak van krag en moed te luister.

“Dank God ons is nie 'n party waar die een teen die ander is nie, maar 'n party vir almal, vir 'n toekoms wat ons almal verdien sodat ons kinders 'n lewe van voorspoed kan lewe,” het Swartbooi gesê.

Hy het die jong mense van die ­||Kharasstreek gelukgewens en gesê hy het baie by hulle geleer en dat hulle gereed moet wees om sterk te staan om vir die demokrasie van Namibië te veg.

“Dit is die jong mense wat my, my politiek en my insig van die wêreld hervorm het. Hierdie land het leier­skap nodig wat die kwessies van die dag begryp.

“Die dae is verby vir die leiers van die 1990's en vroeë 2000. Die tyd het aangebreek vir leiers van 2020 en daarna,” het Swartbooi gesê.

Die partypresident sê net omdat 'n leier 'n “spesialis van die verlede” is, beteken nie hulle kan die toekoms hervorm nie.

Die LPM-jeugliga het met ywer ­gereageer en gesê hul posisies in die samelewing is aan hul leier te danke.

Die jeuglede het 'n windpomp gemaak, wat die hoofsimbool van die party-embleem is, en dit aan Swartbooi geskenk.

Swartbooi het gesê die toestand van staatsinstellings soos hospitale is sprekend dat demokrasie “verby” is.

“Sodra demokrasie in Afrikalande afgebreek word, begin hulle burgeroorloë. Nasiebou het misluk in hierdie land en daar is toegelaat dat staatsgeboue 'n mislukking word,” het hy gesê.– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer