Swapo slyp uitskopbyl

Onafhanklike kandidate geteiken

08 September 2020 | Politiek
Jemima Beukes – Die woordvoerder van Swapo, me. Hilma Nicanor, sê die regerende party het uiteindelik die wapenrusting om af te reken met lede wat hulleself met ander politieke liggame vereenselwig of as onafhanklike kandidate vir verkiesings staan.

Die party het die afgelope naweek tydens ’n buitengewone kongres besluit om sy grondwet te wysig wat hom in staat sal stel om lede uit te skop wat instellings registreer wat ten doel het om dit vir onafhanklike kandidate moontlik te maak.

Dié kongres is virtueel aangebied weens die noodtoestandregulasies wat in hierdie stadium openbare saamtrekke tot tien mense beperk.

Die grondwetwysiging kom ná ’n kragmeting tussen die party en die voormalige Swapo-lid dr. Panduleni Itula, wat verlede jaar teen pres. Hage Geingob deelgeneem het in die presidensiële verkiesing.

“Hoekom wil iemand as ’n onafhanklike kandidaat staan en aan die verkiesings deelneem, terwyl jy jouself nog ’n Swapo-lid noem? Dít is wat die party sê: Daardie persoon moet hom- of haarself verskoon,” het sy gesê.

Volgens haar het die regsbreine in die party hul insette gelewer en is die besluit nie ligtelik geneem nie. “Swapo is die einste party wat demokrasie na dié land toe gebring het, en daar is geen manier wat ons net besluite kan neem sonder om daardie beginsels in ag te neem nie.”

Ondanks verskeie beroepe deur Swapo-lede om vir Itula te skors in aanloop tot verlede jaar se verkiesings, waartydens hy uiteindelik sowat 30% van stemme op hom verenig het, was die party nie in staat om met die tandarts-nou-politikus beslissend af te reken nie.

Hy het onder skoot beland dat hy glo ten doel gehad het om die party te verswak en te vernietig.

Die party het voorheen ook kop gestamp met van sy jeugleiers, soos dr. Job Amupanda se radikale beweging, die Regstellende Herposisionering (AR).

Hy is uit die party geskop omdat hy Swapo se topleierskap uitgedaag het.

Dít het later in hul gesigte ontplof toe die hoërhof sy heraanstelling gelas het.

Itula en Amupanda het sedertdien uit Swapo bedank.

Logies en regverdig

Die uitvoerende direkteur van die Instituut vir Openbare Beleidsnavorsing (IPPR), mnr. Graham Hopwood, sê die wysiging van Swapo se grondwet sal voortaan ’n “dr. Itula-tipe situasie” verhoed waartydens sommige partylede verward was oor watter kandidaat regtig die regerende party verteenwoordig.

Syns insiens blyk dit logies te wees om van lede van ’n party te verwag om nie onder ’n ander vaandel teen daardie party mee te ding nie, en wanneer hulle dít sou doen daar gevolge sal wees.

Maar, het hy gesê, dis belangrik vir administratiewe liggame om regverdig en billik op te tree en te voldoen aan tersaaklike wette en gemeneregbeginsels.

Daarnaas moet gegriefde partye ook sulke optrede en besluite voor ’n bevoegde hof of tribunaal kan toets, sê hy.

Lojaliteit

Die grondwetkundige prof. Nico Horn sê Itula het vir Swapo ’n waardevolle les geleer.

Maar, meen hy, wanneer iemand dislojaal teenoor die party is, kan hulle nie verwag om terug op die wa te spring wanneer die verkiesing nie verloop soos hulle verwag het nie.

Horn sê moontlike regsgedinge is onvermydelik soos die geval met Amupanda en kie was. - [email protected]

Soortgelyk

 

Geingob onder skoot oor ‘wit’ opmerkings

10 ure gelede | Politiek

Denver Kisting – Die leier van die amptelike opposisie, mnr. McHenry Venaani, sê wat pres. Hage Geingob die afgelope naweek oor wit mense kwytgeraak het,...

Verskeie daaglikse vlugte binnekort na SA

10 ure gelede | Vervoer

Ronelle Rademeyer – FlyWestair en Airlink, die private Namibiese en Suid-Afrikaanse rederye, het tot reisigers se redding gekom en gaan die leemte aan direkte, geskeduleerde...

Skone Lira bemark Namibië

10 ure gelede | Toerisme

Die Suid-Afrikaanse sangeres Lira, wat die inperking in Namibië deurgebring en uitgebreide verkenningsreise in die land onderneem het, is deur die Federasie van Namibiese Toerismeverenigings...

Weer vir 19 Oktober

10 ure gelede | Weer

BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en bloedig warm in die Ooste. Elders sal die sonnig wees en baie warm tot bloedig wees. KUS: Gedeeltelik bewolk en koel...

Verdagte panga-rowers in hegtenis

10 ure gelede | Misdaad

Kristien KrugerVolgens ’n Namibiese polisieverslag is sewe mans in hegtenis geneem in verband met ’n aantal gewapende rooftogte in Windhoek.Die mans het hulself glo die...

Massavrekte van robwelpies ondersoek

10 ure gelede | Omgewing

Elvira Hattingh – ’n Ondersoekspan het begin om ongewone vrektes onder Kaapse pelsrobbe te ondersoek nadat klaarblyklik duisende wyfies vanjaar hul welpies teen die Namibiese...

Vier ton vis by Swakoppoort gekonfiskeer

10 ure gelede | Misdaad

Ronelle Rademeyer en Kristien Kruger – Sowat vier ton gedroogte vis en groot hoeveelhede visnettte en vislyn, asook die vlotte wat gebruik is om dit...

Stigma rondom Covid-19 neem af

10 ure gelede | Gesondheid

Jana-Mari Smith – Die normalisering van Covid-19 die afgelope jaar het veroorsaak dat stigmatisering weens die coronavirus besig is om af te neem, maar kenners...

Duitsland steun nasionale parke

10 ure gelede | Omgewing

Francoise SteynbergNóg 'n mylpaal is vir omgewingsbewaring behaal met die Duitse regering deur KfW wat sedert 2006 sowat N$1,4 miljard (75,5 euro) in Namibiese nasionale...