Swanger minderjarige met byl vermoor
Swanger minderjarige met byl vermoor

Swanger minderjarige met byl vermoor

Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - 'n Man (34) wat sy 16-jarige swanger meisie glo Vrydagaand met 'n byl doodgekap het, het daarna selfmoord gepleeg.

Volgens die Namibiese polisie se misdaadverslag het die voorval omstreeks 23:00 op die plaas Olive, sowat 100 km noordoos van Dordabis, plaasgevind.

Die man was 'n werker op die plaas en albei is glo van Gobabis en Setswana-sprekend. Die meisie was glo tussen vier en ses maande swanger.

Daar word beweer dat die meisie haar familie van haar kêrel se mishandeling vertel het.

“Haar familie het glo met die man gepraat en gedreig dat hulle saam met die polisie gaan kom om haar te gaan haal. Die meisie is glo gesê om gereed te maak sodat haar familie haar kan kom haal,” lui die verslag.

“Toe die meisie na haar kamer toe gegaan het, het die man haar gevolg en 'n stryery het ontstaan. Hy het haar glo verder mishandel tot sy buitentoe gegaan het.”

Volgens die polisie het die man buite 'n byl gekry en haar glo twee keer met die byl gekap en sy het geval.

“Die man het glo aangehou om haar met die byl te kap toe sy op die grond lê. Hy het glo ook probeer om een van die getuies wat wou ingryp, aan te val,” sê die polisie.

Die man het daarna van die toneel gevlug.

“Die getuie het gesien die meisie bloei swaar en het gery om hulp van die plaaseienaar te kry.”

Volgens die polisie het die man homself aan 'n boom in die erf opgehang.

Nóg 'n vrou is Vrydagaand aangeval en het Maandag in die Onandjokwe-hospitaal aan haar beserings beswyk. Me. Aina Kristofina Ipunya (34) is omstreeks 21:00 by die Okahenene-lokasie in die Oneputa-nedersetting in die Oniipa-gebied in die Oshanastreek met 'n onbekende voorwerp in die maag gesteek.

Sy het na bewering saam met 'n groep mense by 'n sjebeen gedrink. 'n Stryery het glo tussen Ipunya en 'n ander vrou ontstaan. Laasgenoemde se broer het glo tussenbeide getree en Ipunye is een keer in die maag gesteek.

“Dit is onbekend wie die slagoffer gesteek het en niemand is in hegtenis geneem nie. Die polisieondersoek duur voort,” lui die verslag.



NEGEJARIGE VERKRAG

Kinderverkragtings duur voort.

'n Negejarige meisie is Sondag by die Okaku-nedersetting naby Oshikuku in die Omusatistreek glo deur 'n buurman verkrag. Die verdagte is nog nie in hegtenis geneem nie.

Vrydagaand is 'n 49-jarige vrou in die Otjihama-nedersetting naby Opuwo in die Kunenestreek glo deur 'n 32-jarige man verkrag.

“Die vrou het van die Epupa-mark af na die Otjihama-nedersetting geloop toe die man haar van agter gryp en haar op haar wang klap. Hy het haar glo onder 'n brug ingetrek en verkrag.

“Die slagoffer se man en gemeen­skapslede het die verdagte aan die polisie oorhandig en hy is in hegtenis geneem.”

Kommentaar

Republikein 2025-08-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer