Swakop tel die dae tot Breyton kom
Die gewilde Suid-Afrikaanse hoogspringsensasie sal die groot trekpleister wees.
Andrew Poolman - Die Kaapse skoolseun Breyton Poole se deelname by 'n atletiekbyeenkoms op Swakopmund op 26 Augustus behoort op sigself 'n redelike gegons af te gee.
“Breyton en sy pa (Herman) en oom Bennie (Schlechter, sy afrigter) se vliegkaartjies is reeds gekoop – daar is nie twee stories dat hulle kom nie,” sê mnr. Hennie Horn van die atletiekklub Swakop Striders wat die byeenkoms organiseer.
Min mense het seker nog nie die video op sosiale media gesien nie, van hoe Poole – 'n buksie van net 1.72 meter lank – in die hoogspring op 2.24 meter slaag en dit met 'n uitbundige sprong in die lug vier.
Dit het hom verlede maand die goue medalje by die IAAF junior wêreldkampioenskap in Nairobi, Kenia besorg en behoorlik die verbeelding van die sportwêreld aangegryp.
Sy vriendelike en nederige geaardheid kom ook duidelik na vore in die talle media-onderhoude wat sedert daardie dag met hom gedoen is.
Sy afrigter, mnr. Bennie Schlechter, is 'n oud-Namibiër van Mariental se wêreld wat die afgelope jare in die Wes-Kaap afgetree is.
Saam-saam het dié twee aan sy aanloop van net nege treë gewerk waarmee hy so 'n verstommende afstand bo sy eie kop kan spring en die gevestigde teorie begrawe het dat 'n lang liggaam 'n voorvereiste vir 'n suksesvolle hoogspringer is.
'ONFIKS'
Breyton (17), 'n graad 11-leerling aan Paul Roos Gimnasium, het kort ná sy terugkeer van sy glorie-oomblik in Nairobi met Julian Jansen van Rapport gesels.
“Twee weke voor die kampioenskap was ek effens onfiks oor ek nog eksamen geskryf het,” het hy vertel.
Sy pa Herman het toe 'n hoogspringmat en -lat van Somerset-Wes Primêre Skool, waar hy die adjunkhoof is, gebring sodat Breyton sommer in die “agterkamer” kon oefen. Net daar in sy ouerhuis in die Strand demonstreer Breyton toe vir die koerant hoe hy in Nairobi oor die dwarslat is. Sy aanloop is uit die gang, hy pyl op die dwarslat af en spring! Sy voete mis die dakwaaier en hy seil oor die dwarslat, terwyl sy ouers en broer Hagan kraai van die lag.
Breyton sê hy het 'n dag voor die kampioenskap ook sy spronge in die stadion so geoefen, ten aanskoue van sy elf teenstanders. Toe hy op 2.10 m oor die dwarslat seil, het van hulle hom grootoog aangestaar en senuagtig gelag – oor Breyton húl persoonlike beste in die oefening gespring het!
Sy 2.24 m in Nairobi plaas hom in die algehele 55ste plek (juniors en seniors) in die wêreld vanjaar.
Hy is 'n “spoedspringer” (speed jumper), vertel oom Bennie. Omdat hy so kort is, sê hy, moet hy letterlik op die hoogspringpale “afstorm” – alles met nege treë, anders as veel langer atlete wat baie verder, “amper by die toeskouers kan staan”.
Oor die wêreldkampioenskap sê Breyton: “Ek en oom Bennie het voor Nairobi vir my ouers gesê 2.20 m is die hoogte wat ek wil haal, maar oom Bennie het vir mý gesê: 'Dis 2.25 m, mannetjie!' Ek was soos: Sjoe, dis hóóg!
“Die Vrydagaand kon ek nie slaap nie. Ek is seker ná twaalf droomland toe. Die pressure. Jy kan nie bang wees vir hoogte nie. Jy móét in jou kop oor die dwarslat gaan, vóór jy spring,” beklemtoon hy.
Sy groot atletiekheld is Wayde van Niekerk, wêreldkampioen in die 400 meter. “Sý kop is reg. Ek wil op daai vlak kom,” sê Breyton.
Plofkrag-oefeninge en 'n verkorte aanloop van nege treë is van die tegnieke wat oom Bennie as afrigter ingespan het om vir sy atleet se gebrek aan lengte te vergoed.
“Baie afrigters het my gekritiseer, want die pliometriese oefeninge is meer geskik vir senior atlete. Jy doen dit nie met 'n kind wat nog groei nie, maar ons strategie wérk.
“Hy tel dieselfde spoed op as iemand wat 'n 40 m-aanloop het,” sê Schlechter .
“Breyton het egter baie goeie gene. Onthou dit ook.”
Schlechter sê Breyton kan nog beter as hy meer tyd aan atletiek kan bestee.
“Vir nou is drie ure oefening per week bitter min. Hy is nog op skool. Ons wil hom deur matriek kry. Daarna is dit 'n ander ball game. Ek sou hom graag dan in Swede wil kry. Dis hoogspringwêreld daardie.”
BINNENSHUIS
Op 26 Augustus sal Poole eers aan die gewone hoogspringitem vir die dag deelneem wat by die stadion langs The Dome gehou word.
Teen die aand se kant word die prysuitdeling binne die sportkompleks gehou – waar Poole in 'n spesiale vertoning ook vir 'n paar spronge oor die dwarslat sal aanlê.
“Binnenshuise atletiek op ons vasteland Afrika is iets vreemds – sover my navorsing strek. Dit is nou wel nie 'n volwaardige binnenshuise byeenkoms nie, maar dit behoort nogal 'n spesiale oomblik te wees,” sê Horn.
As hooforganiseerder sê hy dat inskrywings vir talle items reeds goed gevorder het en op 'n lekker warm kompetisie afstuur. Dit sluit 'n paar Namibiese nasionale titelhouers asook wenners by die Cossassa-skolebyeenkoms vir Suider-Afrika in.
“Ons het selfs vanuit die Noord-Kaap 'n paar atlete met sterk persoonlike bestes wat aangedui het hulle kom.”
Daar is afsonderlike kompetisies vir onder 15, o.17 en senior atlete in gewigstoot, spiesgooi, diskusgooi, verspring, hoogspring, 100 m, 200 m, 400 m, 800 m, 1 500m en 3000 m.
“Dit is belangrik om uit te wys dat ons byeenkoms ook vir die liggaamlik gestremde Para-atlete se items voorsiening maak,” sê Horn.
Inskrywings is nog oop tot 23 Augustus. Belangstellendes kan vir Horn by sel. 081 2939987 of e-pos [email protected] 'n boodskap stuur om inskrywingsvorms te bekom.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie