Suurlemoene dans-dans verkoop
Entrepreneur vang die oog
Tanja Bause – Vir die afgelope vier weke sien motoriste wat in Auasstraat aan die suidekant van die hoofstad ry ’n groepie mans wat al dansend suurlemoene te koop aanbied.
Die man agter die besigheid, mnr. Junius Taukuheke, is op Tsumeb gebore en het daar grootgeword. Nadat hy sy skoolloopbaan op Oshakati afsluit het, het hy ’n honneursgraad in rekeningkunde aan die Universiteit van Namibië (Unam) verwerf.
“Nadat ek klaar gestudeer het, het ek by ’n maatskappy begin werk wat groente en vrugte aan groothandelaars verskaf het. Hulle het my ’n aankoper gemaak en dit is waar my verhouding met groente en vrugte begin het.”
Ná drie jaar het hy na ’n ander maatskappy oorbeweeg waar hy die bedryfsbestuurder was, totdat hy ses maande gelede afgelê is.
“Omdat ek deur my werk talle kontakte met boere opgebou het, het ek besluit om met my eie besigheid (Kanias Investments) te begin. Ek koop nou vrugte direk by die plaasboere aan, ek verpak dit en verkoop dit teen my prys. Ek sê vir my span ons sal nie oornag ryk word nie, maar ons verdien geld. Ons maak genoeg geld om te kan lewe en ons verkoop sover ons kan Namibiese produkte direk aan die verbruiker.”
Sowat vier weke gelede het hy met die verkoop van die suurlemoene begin, wat hy aanvanklik vanaf ’n boer op Grootfontein ontvang het.
“Ek het ’n bakkie vol suurlemoene gaan haal, verpak en binne ’n paar dae uitverkoop. Ongelukkig is aanvraag vir suurlemoene te groot en kan die boer nie genoeg lewer nie. So, ek het my kontakte in Suid-Afrika geskakel en dit is wat ons nou verkoop.”
’n Sakkie suurlemoene kos N$20. In ’n sakkie is tussen sewe en nege suurlemoene, afhangende van die grootte. Tans het hy sewe mense in diens, wat beurte maak om te verkoop en te verpak.
“Ons staan van Sondag tot Sondag langs die pad en verkoop. Ons staan nie stil nie; ons dans, glimlag en is opgewonde oor ons kliënte. Daar is baie mense wat goed langs die pad verkoop, ons moet iets doen sodat hulle by ons wil stop en koop. Jy sal nie glo hoeveel gewig ek al met die dansery verloor het nie.”
Volgens Taukuheke wil hy in die toekoms ook druiwe, dadels en ander Namibiese produkte verkoop.
“Die druiwe of dadels word hier gekweek, maar hulle is so duur dat die meeste van ons hulle nie kan bekostig nie. As ek hulle direk by die boer kan koop en verkoop, maak almal geld en ons ondersteun mekaar.
“Mense het aan die begin gedink ek is hier om een boom se suurlemoene te kom verkoop. Ná week twee het hulle gestop en begin praat. Ons en die boere is nou in gesprek oor die aanvraag en verskaffing. Dit gaan alles oor volume; tans kan niemand in Namibië die volume lewer wat ek hier langs die pad kan verkoop nie, so ek het boere nodig wat by my mal idee inkoop en sitrus plant. Ek sal dit verkoop.” – [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie