Susanne Hoff hoor haar lot in Februarie
Susanne Hoff hoor haar lot in Februarie

Susanne Hoff hoor haar lot in Februarie

Sluitingsargumente is Woens­dag in die Windhoekse streekhof aangehoor in die verhoor van die eienaar van 'n advertensiemaatskappy wat glo agter 'n komplot was om haar man te vermoor.
Jacqueline Louw
Jacqueline Louw - Uitspraak in die verhoor van die sakevrou, me. Susanne Hoff, wat daarvan beskuldig word dat sy drie mans gehuur het om haar vervreemde man, mnr. Egbert Hoff, te vermoor, sal in Februarie in die Windhoekse streekhof gelewer word.

Nadat regsverteenwoordigers hul betoë voor landdros Alexis ­Diergaardt gelewer het, het sy haar uitspraak voorbehou in die verhoor van me. Hoff wat skuld ontken op 'n klag van ­sameswering om moord te pleeg.

Die staat beweer Hoff het met drie mans, mnre. Wilbard Malima, Fanuel Haiduwa en Jekonia Shipepe, saamgesweer om haar man te vermoor.

Hoff is op 30 November 2011 in hegtenis geneem en is meer as vier maande lank aangehou voor haar borgtogaansoek in April 2012 ­suksesvol was in die Windhoekse hoërhof.

Me. Samantha Diergaardt het die staat se saak gestel en die hof deur 'n opsomming van getuienis gelei. Egbert is glo op 30 November 2011 deur 'n polisiebeampte versoek om sy beursie, selfoon en motorsleutels te oorhandig omdat daar moontlik 'n poging sou wees om hom te vermoor en dié items nodig was om as bewys van sy dood te dien. Egbert is aangesê om nie Malima, Haiduwa of Shipepe te ontmoet nie, omdat hulle gehuur was om hom te vermoor.

Diergaardt het aangevoer dat Hoff 'n goeie motief gehad het om haar man te vermoor, want benewens Egbert se haglike finansiële posisie tydens die huwelik wat Hoff dreineer het, sou sy ook finansieel benadeel word in 'n egskeiding omdat haar bates in die gemeenskaplike boedel van die egpaar sou beland.

Sy het verder getuienis wat tydens die verhoor aangehoor is aan die hof uitgewys dat Hoff Malima en Shipepe ontmoet het om bewys van die beweerde moord te verkry.

Hulle het saam met sers. Frans ­Nakangombe opgedaag en Malima het 'n plastieksak met Egbert se beursie, sleutels en selfoon aan die ­beskuldigde oorhandig. Hoff is tydens hierdie ontmoeting in ­hegtenis geneem.

Diergaardt het in haar betoog verwys na die getuienis van Malima tydens die verhoor dat Hoff hom na die plaas geneem en 'n hoop ou motorbande gewys het waaronder die liggaam van Egbert glo geplaas moes word. Sy het ook gesê dat Malima en Shipepe getuig het dat Hoff hulle gevra het om haar man te vermoor en dat sy hulle N$25 000 daarvoor aangebied het.



DOSSIER 'VERDWYN'

Adv. Esi Schimming-Chase het namens Hoff aangevoer dat die polisie­ondersoek deurtrek is met strydighede en die hof herinner dat die polisie die dossier verloor het, en dat Hoff die polisie gehelp het om die dossier weer saam te stel. Schimming-Chase het ook genoem dat die polisie nie die deposito van N$10 000 wat Hoff aan Malima en Shipepe vir 'n perdetransaksie betaal het, verhaal het nie.

Hoff het erken dat sy met Malima en Shipepe kontak gehad het, maar aangevoer sy wou hê hulle moes hulself as kopers van perde voordoen sodat sy 'n lokval vir Egbert, wat sy vermoed het haar stoetperde verkoop, kon stel.

Schimming-Chase het ook gesê dat 'n polisiebeampte tydens Hoff se eerste borgtogaansoek beweer het die polisie het 'n stemopname as bewys dat Hoff beplan het om haar man te vermoor, maar gedurende die verhoor het die hof gehoor dat die sogenaamde opname uitgevee is.

Sy het voorts aangevoer dat Hoff deur Malima en Shipepe, twee werkloses wat slegs gepoog het om hulself finansieel te bevoordeel, om die bos gelei is. Hoff se weergawe van gebeure is redelik en moontlik waar, en sy behoort vrygespreek te word, het Schimming-Chase betoog.

Kommentaar

Republikein 2026-08-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer