SuperSport sal Pumas-wedstryd regstreeks wys
SuperSport sal Pumas-wedstryd regstreeks wys

SuperSport sal Pumas-wedstryd regstreeks wys

Rugby
Andrew Poolman
Miljoene oë van SuperSport se rugbykykers dwarsoor Afrika kan aanstaande naweek op die Windhoek Draught Welwitschias wees.

Multichoice Namibia het gister bekend gemaak dat die Namibiërs se tuiswedstryd op 17 Junie teen die Steval Pumas in Windhoek regstreeks op SuperSport 1 vertoon gaan word.

Dié kragmeting (afskoptyd 13:00 Namibiese tyd) sal die Welwitschias se laaste in die SuperSport uitdaagreeks wees. Hul deelname aan die buurland se provinsiale kompetisie sal in Augustus met die Curriebeker eerste liga hervat.

Multichoice Namibia vier sy 25ste bestaansjaar en die regstreekse uitsending vorm deel van sy vieringe.

Die SuperSport-span se reis na Windhoek met die spesiale swaarvoertuig met toerusting vir die regstreekse produksie is 'n belegging om plaaslike rugby in die kollig te plaas, het me. Lizette Foot van Multichoice Namibia gister gesê. Sulke produksies het die afgelope jare betreklik selde in Namibië gebeur.

As deel van die vieringe het Multichoice besluit om van sy getrouste intekenaars van die afgelope kwarteeu te beloon. Vyf-en-twintig intekenare wat in die maatskappy se eerste bestaansjaar in 1993 aangesluit het en steeds opbetaal is, sal genooi word om soos eregaste by die wedstryd tussen die Welwitschias en die Pumas behandel te word. Hulle sal in Multichoice se losie onthaal word en sal ook op 'n toer agter die skerms geneem word om die produksiespan se werk en die tegnologie agter 'n regstreekse rugby-uitsending te kan sien.

“'n Vol stadion en miljoene kykers na 'n regstreekse televisie-uitsending is wat 'n span tot spesiale vertonings kan aanspoor,” het die Welwitschias se afrigter, Lyn Jones, by die geleentheid gesê.

Sy span speel oor die volgende twee naweke eers teen die Goue Leeus en daarna teen die Pumas. Hul uitdaging is selfs groter as gewoonlik omdat hulle moet klaarkom sonder die staatmakers wat vir drie weke saam met die nasionale span in Uruguay op toer is.

“Ons is nie simpel nie – ons weet die Pumas is 'n sterk span wat as gunstelinge hierheen sal kom, maar ons sal ten volle fokus om 'n vertoning waardig vir die geleentheid te lewer,” het Jones gesê.

Dirkie von Weidts, die Welwitschias se nuwe losskakel van Walvisbaai, het gesê SuperSport se aankondiging is vir die betrokke spelers 'n groot eer. “Ons wedstryd sal basies 'n voorwedstryd vir die tweede toets tussen die Springbokke en Frankryk wees.”



WINMAR WORD KAPTEIN

Komende Saterdag teen die Goue Leeus sal Winmar Rust nie net sy provinsiale debuut vir die Welwitschias maak nie, maar sal boonop die tuisspan aanvoer.

As kaptein van Trustco United was Rust 'n sleutelspeler toe sy klubspan in 2014 die laaste keer die NRU premierliga gewen het.

Die Welwitschias se leierskorps is uitgedun deurdat Eugene Jantjies tans op die Uruguay-toer is, terwyl Rohan Kitshoff en Francois Wiese onderskeidelik weens 'n besering en werkverpligtinge afwesig sal wees.

Kommentaar

Republikein 2025-08-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer