Suid-Korea toets ook sy missiele

Suid-Korea het minute nadat Noord-Korea sy jongste missieltoets gedoen het, daarop gereageer met sy eie missielgereedheidsoefening.

Noord-Korea het Woensdagoggend nog 'n missieltoets gedoen wat hy beweer bewys die Amerikaanse hoofstad, Washington, is nou binne sy bereik.

Amptenare van Amerika, Japan en Suid-Korea het dit as 'n interkontinentale ballistiese missiel beskryf, wat hoog die ruimte ingestuur is voordat dit naby Japan geland het. Die het sowat 50 minute lank gestyg tot op 'n hoogte van 4 500 km, meer as tien keer die hoogte van die wentelbaan van die Internasionale Ruimtestasie, berig The Guardian.

Die missieltoets, Noord-Korea se eerste sedert middel September, kom 'n week nadat pres. Donald Trump van die VSA dié land teruggeplaas het op die lys van lande wat Amerika as ondersteuners van terreur beskou. Dit beteken Amerika kan nog sanksies teen Pjongjang instel.

Noord-Korea het reeds verskeie ballistiese-missieltoetse onder leiding van die Noord-Koreaanse leier, Kim Jong-oen, gedoen, ondanks internasionale sanksies.

Trump het onderneem om nie toe te laat dat Noord-Korea kernmissiele wat Amerika kan tref, ontwikkel nie.

Moon Jae-in, president van Suid-Korea, sê dié ontwikkeling is verwag en Suid-Korea was daarop voorbereid.

Moon sê lande is met geen ander keuse gelaat as om druk en sanksies teen Noord-Korea toe te pas nie.

– Reuters

Kommentaar

Republikein 2025-06-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer