Suid-Afrikaner onderbreek hongerstaking
Suid-Afrikaner onderbreek hongerstaking

Suid-Afrikaner onderbreek hongerstaking

Die skrywer van Same Sh*t, ­Different Government sê hy staar vervolging en vyandigheid in sy vaderland in die gesig.
Denver Kisting
Denver Kisting



'n Suid-Afrikaanse blogger en skrywer, mnr. Mike Hampton (48), sê sy toekoms in sy vader­land is in die weegskaal.

Dít kom nadat hy die afgelope paar maande 'n boek, Same Sh*t, Different Government, in Namibië geskryf het wat glo grootskaalse korrupsie in die buurland oopvlek.

Vanweë die beweerde vervolging en vyandigheid wat Hampton in die gesig staar, het hy verlede week 'n vlug van die Internasionale Lughawe Hosea Kutako na Ierland via Doebai probeer haal.

Die redery was egter nie daarvoor te vinde nie omdat Hampton slegs oor 'n eenrigtingkaartjie beskik het.

Hy is nie op die vlug toegelaat nie.

Die Namibiese en Suid-Afrikaanse owerhede is gekontak om die geskil te probeer besleg omdat Hampton sy misnoeë deur middel van 'n honger- en slaapstaking te kenne gegee het.

Amb. William Whitehead, die Suid-Afrikaanse hoë kommissaris, het ­gisteroggend by navraag bevestig sy personeel het met Hampton in gesprek getree.

Maar, sê hy, daar is in hierdie stadium nie veel waarmee hulle hom te hulp kon snel nie. “Ja, hy het na die hoëkommissariaat gekom. Hy is na ons verwys omdat hy 'n Suid-Afrikaner is wat gestrand is.”

Whitehead sê immigrasievereistes sluit 'n retoerkaartjie in om te verhoed dat 'n passasier se repatriasie 'n lugredery se probleem word. “My personeel het hom ontmoet. Daar is niks wat ons as Suid-Afrikaanse hoëkommissariaat vir hom kan doen nie.”

Republikein het Vrydagnamiddag vir Hampton by 'n gastehuis in die hoofstad opgespoor.

Hy sê die Namibiese owerhede was hom tot dusver baie goedgesind.

Volgens hom het hy op Ierland besluit omdat hy glo dié Europese land sal onder die omstandighede goed na hom kan omsien.

Terwyl hy in Swakopmund sy manuskrip afgehandel het, het hy bewus geword van 'n hofbevel wat hom verbied om sy boek uit te gee, sê hy.

Hy sê 'n lasbrief is glo ook in die buurland vir sy inhegtenisneming uitgereik omdat hy na bewering politici aanlyn geteister en daardeur vorige hofbevele verontagsaam het.

Die verbod en die lasbrief is onreëlmatig uitgereik, voer Hampton aan.

Hy het intussen ondanks die bevel die boek wyd aanlyn versprei, gee hy toe.

Hampton beweer 'n lang tronkstraf in die buurland is sy voorland omdat talle politici hul mes vir hom inhet.

Sy nege jaar lange stryd om groot­skaalse beweerde korrupsie aan die groot klok gehang te kry, was tot dusver tevergeefs, sê hy.

Oor beweringe van vervolging en vyandigheid sê Whitehead: “Dit sal ek nie weet nie. Suid-Afrika is 'n demokratiese land. 'n Mens kan jou saak neem na die tersaaklike instellings van geregtigheid en hulle sal dit hanteer.”

Die diplomaat sê sy land onderwerp niemand aan vyandigheid nie. “Dit het onder die apartheidstelsel gebeur. Ons doen dit nie.”

Hampton het hom verlede week tot Staatshuis om hulp gewend.

Dr. Alfredo Hengari, presidensiële woordvoerder, het Vrydag gesê die ministerie van binnelandse sake en immigrasie hanteer die aangeleentheid.

Die direkteur van vlugtelinge en asielsoekers in Namibië, mnr. Likius Valombola, het gesê Hampton is tans wettig in die land en het geen misdaad gepleeg nie.

Daarnaas het hy bevestig Hampton is in besit van 'n geldige retoerkaartjie na Suid-Afrika einde vandeesmaand.

Hampton sê hy wil nóg 'n vlugteling nóg 'n Namibiese burger word.

Hy enigste sending is om wyd­verspreide beweerde korrupsie in sy vaderland hok te slaan, sê hy.

Volgens hom het hy intussen begin eet omdat hy in dié stadium uitgelewer is aan die genade van Namibiese owerhede.

Hy is glo gevra om nie vir Namibië 'n verleentheid te word nie.

Maar, sê hy, sy geld is maar skraps. Hy het byvoorbeeld geld geleen om die boek op Swakopmund te kom skryf.

Dié uitstappie het toe veel duurder geword as wat hy verwag het omdat hy ure in koffiewinkels in die vakansiedorp moes verwyl om toegang tot die internet te hê.

Hy werk reeds aan 'n tweede boek, maar kon nie Vrydagmiddag die werktitel onthou nie. Hy sê hy gaan veral die laaste ruk onder geweldige stres gebuk.

Dit knou nie net sy gesondheid nie, maar ook dié van sy bejaarde pa.

Kommentaar

Republikein 2025-05-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer