Suburbs sê hokaai met ligaplan
Die risiko's weeg te swaar, meen minstens een klubvoorsitter.
Andrew Poolman – Gans te veel water moet nog eers oor die Covid-19-landskap in die see loop voordat die Namibië Rugby-unie (NRU) met vertroue oor die hervatting van sy klubligas kan begin praat.
Klubs verbonde aan die NRU het laas naweek by die jaarvergadering die doelwit gestel om in Augustus met wedstryde in die premier-, reserwe- en eerste ligas te begin.
Die voorsitter van FNB Western Suburbs, mnr. Keith Allies, het gister aan die koerant gesê hy was Saterdag teleurgesteld in die “gebrek aan detail” in die bespreking oor die protokol van 'n terugkeer na kompeterende rugby.
“Die hele land moet nog fisieke afstand tussen mense handhaaf en die afgelope naweek het die nuwe positiewe Covid-uitslae in die dosyne getel. Hoe is almal veronderstel om 1.5 meter uitmekaar te bly, maar ons wil rugby as 'n kontaksport speel?”
Met die daaglikse toename in gevalle in die Erongostreek (tans in fase 3 van inperking tot 6 Julie) is dit 'n ope vraag hoe die kusklubs, insluitend die Walvisbaaise premierligaklub Kudus, enigsins by die beplanning van 'n ligaseisoen bygereken kan word.
En moet ook nie so haastig wees om Western Suburbs onder die huidige omstandighede in te sluit nie, sê Allies.
“Ek is baie bekommerd oor die denkrigting van hoe die plattelandse klubs in die eerste liga veronderstel is om rugby te speel. Onthou, sommige van hierdie klubs trek finansieel reeds so swaar dat hulle verlede jaar nie na Windhoek kon reis vir die uitklopwedstryde waarvoor hulle gekwalifiseer het nie.
“Nou wil ons hul uitgawes nog verder verdubbel. Onder die reisbeperking sal 'n rugbyspan nie meer in een bus mag reis nie – so, die klub sal waarskynlik nog 'n voertuig moet reël.
“Die NRU het nie geld om weg te gee nie, maar tog voel ons gedwonge om nog vanjaar 'n liga te probeer inpas.
“Mense vergeet dalk dat rugbyspelers hul wonings met familielede deel wie se risiko ook verhoog indien ons vir rugby die groen lig gee.
“Dink net aan die katastrofiese gevolge as byvoorbeeld een rugbyspeler van Oranjemund positief toets. Dis 'n klein gemeenskap – jy sal 'n hoktyd op die myn se bedrywighede en hele dorp moet afdwing.
“As 'n praktiese voorbeeld is daar ook 'n geval soos die veld op Rehoboth wat aan alle kante oop is. Wie gaan die beheer van die getal toeskouers en die byhou van 'n register van kontakte toepas?
“By die vergadering het die skeidsregtersvereniging ook laat blyk hulle is ongemaklik met die voornemens.
“Ek dink spelers kan dalk kortsigtig net na die moontlike wedstrydfooie as 'n inkomstebron kyk. In realiteit sal 'n klub se spelerskontrakte nou ook 'n vrywaringsvorm in geval van Covid-19 moet insluit – en elke klub sal ook vrywaring van sy opponente moet kry. Met die virus se broeityd van twee weke is selfs 'n negatiewe toetsuitslag vandag nie 'n waarborg van enigiets nie.”
Allies sê Western Suburbs nooi al sy spelers na 'n noodvergadering vandag om 18:30 by die klubhuis om hierdie saak te bespreek.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie