Studente leer vrees van nag in kykNET-fliek ken
Studente leer vrees van nag in kykNET-fliek ken

Studente leer vrees van nag in kykNET-fliek ken

’n Groep dramastudente ervaar baie meer drama van die verhoog af as daarop in Sondagaand se kykNET-fliek, Nagvrees.

In hierdie rolprent repeteer studente deurnag aan ’n produksie van William Shakespeare se toneelstuk Macbeth, maar dié titel is mos ’n vloekwoord in die teater.

“En nou is byna almal in die geselskap te bang om ‘Macbeth’ te sê,” sê Izel Bezuidenhout, wat die rol van Lisa vertolk.

“Die aand verloop baie anders as wat die studente verwag het. Een van die karakters steur haar nie aan die vloek nie. Sy dink dis onsin en sy sê die woord. Daarna begin die studente een vir een verdwyn.”

Elke teater het boonop ’n spook en dié teater s’n se naam is Fred, soos die veiligheidswag (André Odendaal) wat aan ’n geestesiekte ly.

“Daar is natuurlik paniek, want niemand weet wat gaan gebeur nie. Snaaks genoeg neem Lisa beheer van die situasie.”

Lisa vertolk Lady Macbeth in die produksie, maar sy speel teenoor haar gewese kêrel, wat Macbeth vertolk.

“So dit is vir haar ongemaklik en sy is eintlik onseker oor haarself. Sy is die tipiese meisie van langsaan, maar dit is interessant hoe sy dinge hanteer wanneer die aand handuit ruk,” vertel Bezuidenhout oor haar karakter.

“Hoewel sy nie so wreed is nie, kan sy haar met Lady Macbeth vereenselwig. Maar Lady Macbeth moet ook ’n situasie kan hanteer.”

Die fliek speel in ’n denkbeeldige teater af en die regie is deur Nicola Hanekom.

Bezuidenhout, wat tans Zelda Bezuidenhout se boek Toe ons oneindig was op RSG voorlees, en Hanekom het in die fliek Dis ek, Anna ook die rol van ’n ma en dogter gespeel.

“Maar dit was nou die eerste keer dat sy my regisseur is en dit was nou ’n voorreg. Ook om teenoor André te speel,” sê Bezuidenhout.

“Nicola is ’n onselfsugtige regisseur. Jy kan haar 100% vertrou. In ’n toneel wat ons in die buitelug geskiet het, was ek kaalvoet en Nicola het haar tekkies uitgetrek en gesê ek moet daarop staan. Sy het op haar kouse rondgeloop omdat sy nie wou hê ek moet siek word nie.”

• Nagvrees word Sondag om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2026-05-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer