Strydros van 1970’s oorlede

’n Flank van die eertydse SWA-rugbyspan is vandeesweek gegroet.
Andrew Poolman
Andrew Poolman – Ondanks ’n hardnekkige stryd, was kanker uiteindelik tog aan die wenkant teen een van die tipiese geharde voorspelers waarvoor die destydse Suidwes-rugby bekend was.

Gideon Petrus Johannes van Zyl, bekend as Gideon of op die bynaam Cohen wat hy sedert sy skooldae gehad het, is Maandag op 68-jarige leeftyd in Windhoek oorlede.

Van Zyl is omstreeks 2010 met bloedkanker gediagnoseer en medici se voorspelling was dat hy waarskynlik nie veel langer as een of twee jaar daarna sou oorleef nie.

“Hy het egter geweier om bes te gee en met sy moedige stryd teen kanker het sy familie darem ’n goeie klompie ekstra jare saam met hierdie groot gees gehad,” sê Jan Hendrik (Wolfie) Duvenhage, sy skoonseun en ook voormalige Namibiese flank in 14 toetse tussen 2000 en 2007.

“Hy was in Januarie weer in die Kaap vir behandeling en sy witbloedselle was bykans nul, maar hy het aangehou stoei hulle moet hom laat terugkom, want sy wens was om in Namibië by sy mense tot sterwe te kom en nie aan daardie kant nie.”

Gideon van Zyl het in die middel 1970’s van die Kaap na Suidwes-Afrika verhuis. Hy is omgepraat deur sy broer Eric, wat in daardie stadium die voorsitter van Walvisbaai-rugbyklub was.

Van Zyl het van omtrent 1976 tot 1980 vir Walvisbaai, Weste en vir Suidwes gespeel.

“As flank het hy meegeding met die gevestigde ouens soos Wolfie Wolfaardt en omdat hy van die platteland was, het hy gewoonlik nie ewe veel geleenthede as die Windhoekers gekry nie,” vertel mnr. Theo Grünewald, wat destyds ook as losskakel van Walvisbaai en SWA op die toneel was.

“Ek onthou in 1980 was Gideon op die reserwebank vir Suidwes se Sport Pienaar-finaal teen Oos-Transvaal op die eertydse Pam Brink-stadion op Springs. Dit was nog die dae toe ’n span net twee reserwes gehad het. Skaars vyf minute in die wedstryd, toe doen Doug Mather ’n ribbesering in ’n skrum op. Gideon het dus opgedraf en moes op stut gaan sak, maar het hom goed van sy taak gekwyt, want hy was ’n sterk man.

“Die beste deel van die storie was dat hy en Roger Crittenden (losskakel), die ander man op die reserwebank, eintlik die vorige aand uit die hotel geglip en gaan kuier het om eers vroegoggend weer terug te keer. Sover ek onthou was dit die laaste keer van die nagenoeg 15 kere wat hy vir Suidwes gespeel het.”

“Hy was iemand wat dinge aan die gang gesit het en wat vir niks teruggedeins het nie.”

Van Zyl het in later jare na Windhoek verhuis, waar hy ook in die Wanderers-trui gespeel en sy bekendheid as ’n fisiek klipharde speler verder uitgebrei het.

Grünewald sê Van Zyl se jarelange stryd teen kanker getuig van sy besondere deursettingsvermoë en wilskrag. “Ek het hom nog tot laas November of Desember in die gimnasium gekry, waar hy met ligte gewigte, of vir ’n goeie 45 tot 60 minute op ’n slag op die trapmeul of oefenfiets sou oefen.”

As entrepreneur het Van Zyl vroeër jare besighede soos die Mermaid-hotel en Sun Motors op Walvisbaai besit en later ook sy stempel afgedruk met aanbouings en opknappings by onder meer die Hosea Kutako Guest House en Sweet Thorn Retreat.

Van Zyl laat sy eksvrou Nicolene na, asook drie dogters, Monique (van Zyl Leach), Danelle (Duvenhage) en Victoria (van der Bank) en vyf kleinkinders.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-29

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer