Stryd van die narre

Boks
Louis de Villiers



'n Gerug het die ronde gedoen dat Zab Judah, een van Floyd Mayweather junior se skerm­maats, hom in die oefenkryt op sy blaker laat sit het. En 'n gerug dat Conor McGregor sy skermmaat Paulie Malignaggi binne die reëls platgeslaan het.

Of die onthulling (Snak! Oe! Aa!) dat Mayweather gevra het dat hul geveg (om g'n titel hoegenaamd nie) met handskoene van agt pleks van tien onse beslis sal word.

Hy kan vinniger slaan, McGregor harder, maar die beste weddenskap is dat hulle grotendeels uit mekaar se pad sal probeer bly.

Met sulke beuselagtighede word probeer om soveel moontlik kykers op te slurp.

Niks is op die spel as dié twee Saterdagnag in Paradise, Nevada, teen mekaar deur die toue klim nie. Albei weeg sowat 70 kg, op 1,75 staan die UFC-breker McGregor twee sentimeter hoër in sy sokkies as die onoorwonne bokskampioen wat wêreldtitels vanaf superveergewig tot die ligmiddelgewig gehou het.

Sommige statistiek steun Mayweather se kleim as die beste bokser nóg. Net die rateltaai swaargewig Rocky Marciano het ook 49 beroepsgevegte gewen sonder om slae te kry. As Mayweather met McGregor afreken, sal dit sy 50ste slagoffer wees sonder 'n nederlaag.

(Gerieflikheidshalwe praat niemand oor die Mexikaanse legende Julio César Chávez, wat 89 oorwinnings en een gelykop geveg gehad het voordat hy sy eerste nederlaag geproe het nie. Sommer maklik word gesê hy het net teen taxidrywers en boemelaars in die kryt geklim).

Marciano het sy rekord opgestel met 'n harde kop en 'n harde regter; hy het baklei deur vorentoe te beur.

Mayweather het dit veral in sy later jare geëwenaar deur grotendeels agteruit te dans, te kyk hoe sy teenstanders wind slaan en genoeg keer 'n handskoen in hul gesig te druk dat enige neutrale kyker in sy guns sou beslis. Maar sy gemiddelde teenstander was gedugter as dié van Marciano.

Onderweg na sy rekord van 49-0, wat wêreldtitels in vyf afdelings ingesluit het, het Mayweather afgereken met vegters van die gehalte van Manny Pacquiao, Canelo Álvarez, Oscar De La Hoya, Miguel Cotto, Shane Mosley, Jesús Chávez en Jose Luis Castillo.

Dis verspot om te stry oor wie die beste bokser van alle tye kwansuis sou wees; daar's immers akkers spasie tussen wat Joe Louis en Marvin Hagler gedoen het. Maar dat Floyd Mayweather junior genoem moet word as jy dié argument wil hê, ly min twyfel.

In die wêreld van gemengde gevegskuns, onder meer die UFC-dekmantel waar Conor McGregor baklei, is daar ook maar min hoop dat die Ier met “Money” sal kan afreken.

Hokbakleiers soos McGregor sal op hul tuisveld die lewe hel maak vir manne soos Mayweather, maar in 'n bokskryt, volgens boksreëls, staan hulle niks anders as 'n vet tjek te wen nie.

McGregor het verlede week sy bors getrommel en geweet te vertel dat die kunsies wat hy in gemengde gevegskuns geleer het, Mayweather onverhoeds gaan betrap ná jare van relatief platvoetboksers.

McGregor het laas as amateur geboks. Mayweather is 49-0, McGregor 0-0.

Volgens McGregor, wat die meeste van sy gevegte in die oktogoon blitssnel beklink het, sal die spoed van sy aanvalle vir Mayweather dermate steier dat dié waarskynlik nie twee rondes sal oorleef nie.

Mayweather, wat vir die tweede maal ophou uittree vir dié soveelste asembenemende betaaldag, bodder nie eens vreeslik om lelike dinge oor McGregor te sê nie. Buiten, sê hy, dat dié waarskynlik minder as $15 miljoen van die $100 miljoen in sy sak sal steek agterna.

Hulle noem dit die Money Fight, sonder om te blik of te bloos. Ons ouskool-entoesiaste sal liewer wag vir Gennady Golovkin teen Álvarez, drie weke later. En ons moet erken Álvarez kon beswaarlik 'n handskoen teen Floyd Mayweather gedruk kry.

Natuurlik is daar 'n kans dat McGregor een plant nes Mayweather gly en dit die grootste opskudding in moderne sport is. 'n Piepklein kansie, maar darem. En dis dié dat genoeg mense Saterdagnag sal inskakel om twee skatryk zefs ryker te maak, sonder dat enigeen van hulle vreeslik seer gaan kry in die proses. 

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-05-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer