Stryd teen olifantstropery werp vrugte af
Stryd teen olifantstropery werp vrugte af

Stryd teen olifantstropery werp vrugte af

Namibië ondervind oor die afgelope agt jaar 'n skerp afname in die stroping van olifante.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh – Hoewel niemand nog in hegtenis geneem is in verband met die vier olifante wat vanjaar in Namibië gestroop is nie, toon Namibië oor die afgelope agt jaar 'n sterk afname in die stroping van dié bosreuse.

Volgens syfers wat deur die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme bygehou word, blyk dit dat olifantstropery jaarliks verminder. Terwyl daar in 2016 tot bykans 101 olifante gestroop is, was dit in 2019 en 2020 onderskeidelik net 13 en 12 olifante.

Ook in 2014 is 78 olifante gestroop, met 2017 waarin 50 olifante gestroop is.

Die woordvoerder van die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme, mnr. Romeo Muyunda, sê die afname is te danke aan die feit dat wetstoepassers strenger optree as dit by wildmisdaad kom – in samewerking met verskeie wetstoepassende agent­skappe.

“Die inhegtenisname van verdagtes dien ook as afskrikmiddel. Daar is tans goeie samewerking met die publiek – wat ons voortdurend inlig oor beplande misdade of daar waar stroping reeds plaasgevind het.

“Oor die algemeen staan die land sáám teen stro­pery. Daar is egter nog baie om te doen om hierdie getalle by nul te kry of om dit laag te hou, as jy in ag neem dat stropers genoop sal word om meer innoverend te raak om ons teen te werk.

“Ons streef egter daarna en belowe om stroping­sindikate een stap voor te bly.

“Stropers en diegene wat sulke planne beraam, moet kennis neem dat Namibië teen stropery opstaan en dat hulle aan die gereg oorhandig sal word,” het Muyunda gewaarsku.



RENOSTERS

Vanjaar is vier olifante in die Otjozondjupa- en Kavango-Oosstreek gestroop, terwyl nege renosters tot dusver in 2021 gestroop is – drie swartrenosters en ses witrenosters.

Dit is minder duidelik of renosterstropery ook besig is om af te neem, alhoewel syfers die afgelope vier jaar ook daal.

In 2018 is 81 renosters gestroop. Die syfer het in 2019 tot 54 gedaal en in 2020 tot 32.

Muyunda het voorheen gesê in verband met ­renosterstropery en ander wildmisdade het Namibië ook sy stryd verskerp “tot op die punt waar 'n arrestasie vir elke renosterstropingsaak ge­maak is”.

Wat renosterstropery betref, was 2015 die bloedigste in nege jaar toe 97 renosters gestroop is.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer