Stryd oor Strydpan duur voort
Stryd oor Strydpan duur voort

Stryd oor Strydpan duur voort

Ronelle Rademeyer
Maria Eiseb - Harde woorde het die afgelope weke geval tussen 'n plaaswerker en die nuwe huurder nadat hy eersgenoemde en sy gesin van die plaas afgesit het.
Mnr. Willem Rooi (45) en sy lewensmaat, me. Adda Coetzee (55) is voor Kersfees deur die nuwe huurder van die plaas Strydpan by Witvlei, mnr. Knox Otto Imbuwa, die trekpas gegee. Hulle het die feestyd langs die pad deurgebring.
Volgens Rooi het hy vir die vorige eienaar van die plaas, mnr. Steph Flegter, as plaaswerker gewerk. In 2014 het Flegter die plaas aan die regering verkoop. Rooi het die verteenwoordiger van die ministerie van grondhervorming in die Omahehestreek, mnr. Erastus Ngishoono, gevra om op die plaas aan te bly omdat hy nêrens gehad het om heen te gaan nie.
Rooi het die plaas opgepas en daagliks deur die kampe geloop om seker te maak dat daar nie enige skade aangerig is nie.
Die plaas is in 2014 deur die regering aan Imbuwa, 'n voormalige werknemer van die ministerie van grondhervorming, vir 99 jaar verhuur. Volgens Imbuwa het hy, soos enige ander burger van die land, aansoek gedoen en het die huurkontrak van die regering gekry.
Nadat hy in 2014 as die nuwe huurder op Strydpan gekom het, het Imbuwa eendag vir Rooi in die veld met ‘n karkas van ’n gemsbok gekry. Hy het vir Rooi by die polisie op Witvlei aangekla dat hy sonder toestemming op sy plaas jag. Hy hou egter vol dat hy nie gejag het nie, maar dat die gemsbok in die draad vasgesit het. Terwyl hy in die kampe gepatrolleer het, het hy op die gemsbok afgekom en dit vir sy familie gevat, het hy gesê. Volgens Rooi het hy ‘n skulderkenningboete van N$2 000 betaal.
Rooi sê hulle is al drie keer van die plaas af weggejaag. Imbuwa het ook eenkeer ‘n vuurwapen op Rooi se stiefseun gerig toe hy die bewyse gevra om te sien of Imbuwa wel die huurder van Strydpan is.
“Ek het nie ‘n vuurwapen na iemand gerig nie, dit was die polisie,” het Imbuwa gesê.
Volgens Coetzee, Rooi se lewensmaat, het die polisie voor Kersdag vir die derde keer by hul huis op Strydpan gekom om hulle uit te sit.
Imbuwa wil nie hê Rooi en sy huisgesin moet verder op sy plaas woon nie.
“Ek soek nie vir Willem op my plaas nie”, het Imbuwa tydens Republikein se besoek aan die plaas gesê.
“Hulle het die plek vernietig, die pype uitgetrek, die kraankoppe afgehaal. Omdat hulle gejag het, het hulle die pype gesny sodat die diere net by ‘n sekere plek water drink om hulle makliker by te kom,” het hy gesê. Hy het bene van gemsbokke, koedoes, wildebeeste, volstruise en springbokke wat deur Rooi gejag is, bymekaar gemaak. “Die wynbottels is ook bewyse van wat Willem-hulle gedrink het, en ek het alles maar net bymekaar gemaak,” het Imbuwa gesê.
“Dit was ‘n jagplaas en die vorige eienaar het altyd die bene vir ons gegee,” het Willem gesê.
“Toe die plaas verkoop is, het ek die bottels van die vorige plaaseienaar bymekaar gemaak en dit altyd op Gobabis gaan verkoop. “Ek is nie iemand wat alkohol drink nie, daardie bottels was die vorige eienaar s’n.
“Toe hy die plaas verkoop het, het hy vir my gesê ek moet die bottels wat rondlê bymekaar maak en vir my vat en verkoop,” het Rooi gesê.
Hy sê mense het dikwels na die plaas gekom om houtskool te maak, en dat dit hulle is wat in die veld vuur gemaak het.
Vir elf maande het Rooi die plaas opgepas, het Coetzee gesê.
“Al ons besittings is verniel, ons het niks meer nie. Ons kry ook nie meer water van die mense van die buurplase nie. Ons weet nie wat het Knox vir hulle gesê nie,” het Rooi gesê.

Kommentaar

Republikein 2025-12-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer