Struikrowery by Karibib
Struikrowery by Karibib

Struikrowery by Karibib

Van die beweerde booswigte se misdaadrekords strek blykbaar tot so ver as 2012 terug.
Des Erasmus
Des Erasmus - Vier struikrowers op die teerpaaie tussen Karibib en Omaruru en Karibib en Usakos se turf sit nadat 'n taxibestuurder uit die kattebak van sy eie gekaapte motor ontsnap het en by die polisie om hulp gaan aanklop het.

In die opvolgoperasie het lede van die distrikswag van Karibib die polisie op versoek bygestaan.

Die vier mans is uiteindelik in twee afsonderlike konfrontasies op Usakos aangekeer in verband met voorvalle Vrydag en Saterdag op die genoemde weë.

Onder die aangehoudenes is blykbaar verhoorafwagtendes wat op borgtog vrygelaat is met vorige klagte van beweerde moord, gewapende roof en ernstige aanranding wat teen van hulle aanhangig gemaak is.

Gister is die name van die mans nog weerhou terwyl 'n opvolgoperasie steeds aan die gang is. Juis onkunde oor die werking van die gekaapte motor van 'n taxibestuurder het die kraaines van misdaad ontrafel. Die betrokke taxibestuurder het ontkom toe die beweerde rowers brandstof wou tap, maar die hefboom van die kattebak getrek het pleks van die prop na die brandstoftenk.

Dit het die taxibestuurder in staat gestel om te ontsnap.

Die ganse drama het Saterdag begin toe 'n taxi met 'n enkele vrouepassasier tussen Karibib en Omaruru nog twee mans op die roete laat inklim het waar hulle op 'n geleentheid gewag het.

GYSELAAR

Die twee mans was die beweerde rowers. Nadat die twee die bestuurder oorval en hom in die kattebak gestop het, is die vrouepassasier blykbaar voor die loop van 'n vuurwapen gelas om 'n kitsopdrag (eWallet) op haar selfoon te gee dat N$4 000 aan hulle oorbetaal word. Nog 'n bewering is dat 'n bankkaart by 'n inkopiesentrum op Karibib gebruik is om nog N$2 000 uit haar rekening te onttrek.

Ná die ontsnapping van die bestuurder uit die kattebak het die aanvallers op die vlug geslaan met die vroue­passasier steeds as hul gyselaar. In hul jaagtog om weg te kom, was die twee mans in die taxi in 'n ongeluk betrokke. Met die vrouegyselaar steeds by hulle, het hulle te voet tot by die B2-hoofweg tussen Karibib en Usakos gevlug.

In daardie stadium het lede van 'n sekuriteitsmaatskappy as 'n derde instansie aan die agtervolging deelgeneem.

Die sekuriteitsbeamptes en ander lede van die agtervolgingspan het gesien hoe die twee mans en die vrou deur 'n ander reisiger op die pad ­opgelaai word.

Die motor is oor 'n afstand van meer as 40 km ná die afdraai van die Spitzkoppepad wes van Usakos gevolg en is daar gedwing om stil te hou. Die bestuurder het beweer hy het die rylopers en die vrou op Usakos afgelaai.

Nog polisiemanne van Omaruru en Karibib het hulle in dié stadium by die agtervolgers aangesluit. Hulle het hul volgehoue soektog in Usakos se ­Hakhaseb-woonbuurt voortgesit.

Dit het hulle van sjebeen na sjebeen gelei en by die vierde sjebeen is die eerste twee mans aangekeer. Tydens hul ondervraging het aan die lig gekom 'n 61-jarige vrou was die vorige aand op Usakos die slagoffer van 'n gewapende rooftog deur twee mans.

Ook dié twee verdagtes is aangekeer.

Van die beweerde booswigte se ­misdaadrekords strek blykbaar tot so ver terug as 2012.

Die polisie van die drie dorpe, lede van die distrikswag en 'n sekuriteitsmaatskappy het ook beslag gelê op kontant, messe en 'n ongelisensieerde vuurwapen.

Die klagstaat teen die mans behels twee gevalle van motorkaping, twee gevalle van gewapende roof, ontvoering en die besit van 'n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.

Kommentaar

Republikein 2025-12-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer