'Stropers' in skietgeveg met polisie
Ná 'n hewige skietery Saterdag tussen die polisie en vermeende renosterstropers in die omgewing van Khorixas is vier mans vas.
Francoise Steynberg - 'n Hewige skietgeveg het in Saterdag se vroeë oggendure tussen vermeende renosterstropers en die polisie in die omgewing van Khorixas uitgebreek met vier mans wat agter tralies beland het.
Volgens die hoof van die Namibiese polisie se skakelafdeling, adj.komm. Edwin Kanguatjivi, spruit die voorval uit inligting van die publiek dat 'n renoster in die omgewing van Khorixas gestroop gaan word.
"Die polisie en die ministerie van die omgewing en toerisme se teenstropery-eenheid het inligting ontvang dat 'n voertuig mense op 'n sekere plek gaan aflaai om 'n renoster te stroop," het Kanguatjivi gesê.
"Die magte het omstreeks 04:00 die oproep ontvang en hulle het die mans wat in die bosse ingehardloop het in die veld agtervolg," het Kanguatjivi gesê.
Volgens hom het die magte 'n waarskuwingskoot in die lug afgevuur en die vermeende stropers het begin terugskiet.
"'n Hewige skietery het gevolg, maar die magte was te sterk. Een van die vermeende stropers het homself aan die magte oorhandig waarna hy in hegtenis geneem is."
Terwyl die polisie na die ander vermeende stropers gesoek het, het die polisie van Khorixas intussen padblokkades rondom die dorp opgestel.
Volgens Kanguatjivi is twee vermeende stropers Saterdagnamiddag in hegtenis geneem en 'n vierde verdagte Saterdagaand.
Hy het bevestig dat geen magte of vermeende stropers tydens die skietgeveg gewond is nie en geen renoster is gestroop nie.
Die vier verdagtes bly in aanhouding.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie