Stroom spoel dooie walvis kilometers noord

Otis Finck
Otis Finck - Die karkas van 'n boggelrugwalvis wat 'n ruk gelede by Paaltjies uitgespoel het, is intussen deur die see noordwaarts gespoel tot op die strand tussen Myl 4 en Myl 8.

Die Namibiese Dolfynprojek (NDP) sê 'n lid van die publiek, me. Annalie van Greunen, het die uitspoeling van die ontbinde karkas noord van Swakopmund onder sy aandag gebring en foto's daarvan verskaf.

Die vorige keer is lede van die projek deur toeroperateurs wat dit by Paaltjies suid van Walvisbaai gewaar het, van die dooi boggelrugwalvis in kennis gestel.

"Noudat vyf boggelrugwalvisse in 'n kort tyd lang die kus uitgespoel het, is daar baie vrae steeds onbeantwoord. Ons is dankbaar dat die publiek, toeroperateurs, regeringsinstansies en navorsers almal kragte saamsnoer om antwoorde te kry vir hierdie verskynsel," sê dr. Simon Elwen, direkteur van die NDP.

Mense word versoek om wanneer hulle op lewende walvisse of dolfyne afgekom wat uitgespoel het, nie aan die diere te raak nie. Hulle moet dit met handdoeke of komberse toegooi om sonbrand te voorkom, maar die luggate oop laat. Sout- en varswater moet gebruik word om die dier deurentyd nat te hou.

Verder moet mense geraas beperk en skares weghou van die gestrande dier af. Hulle moet soveel as moontlik foto's van die dier neem, met nabyskote van die kop, stert en vinne.

Hulle moet ook dadelik lede van die projek van die vonds in kennis stel. Die e-posadres is nam.dolphin.project @gmail.com. Mense kan dit ook op die Facebook-blad plaas.

Kommentaar

Republikein 2025-05-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer