Storm woed om Trump

President Donald Trump se pogings om brûe in sy eie party te bou, het op skouspelagtige wyse misluk.
NAMPA
Senator Jeff Flake het die ­Amerikaanse president, Donald Trump, Dinsdag onverhoeds betrap met 'n toespraak van 17 minute wat soos 'n noodkreet geklink het.

Hy het gewaarsku oor 'n “roekelose presidensie” enkele minute voordat Trump 'n rare uitstappie na die ­Amerikaanse Kongres onderneem het om saam met Republikeinse ­senatore middagete te geniet.

Flake se verrassende aankondiging, dat hy nie weer as kandidaat sal staan as sy termyn verstryk nie, het gekom enkele ure nadat 'n ­Republikeinse kollega, senator Bob Corker van ­Tennessee, sy woordestryd met Trump hervat het. Daarin het Corker hom beskryf as 'n “uiters oneerlike” leier wat die nasie verneder het.

Hierdie uitsonderlike gebeure op Capitol Hill het die spanning tussen Trump en sy party verdiep.

Ervare senior partylede is bekommerd oor sy kru en veglustig bestuurstyl.

Flake, wat sedert 2013 in die senaat dien, is 'n uitgesproke kritikus van die Trump-era-politiek.

“Die persoonlike aanvalle, die ­bedreiging van beginsels, vryhede en instansies, die verregaande miskenning van die waarheid en ordentlikheid; geeneen van hierdie kenmerke van ons hedendaagse politiek behoort as normaal geag te word nie,” het die 54-jarige Republikein van Arizona gesê. - Nampa/AFP

Kommentaar

Republikein 2025-11-08

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer