Storm ontwortel talle bome

Tanja Bause
Tanja Bause - Maandag het ’n storm Tsumeb getref en verskeie bome ontwortel.

Volgens die woordvoerder van die dorp se munisipaliteit, me. Stella Imalwa-Nangolo, het reën, wind, hael en weerlig omstreeks 17:00 uitgesak.

“Vyftien minute later was alles verby. Die storm was die sterkste in die Endombo-woonbuurt, waar talle groot bome ontwortel is. Die bome het vier mense lig beseer en ’n pensioenaris, wat tydens die storm gelê en slaap het, is ernstig beseer en in die hospitaal opgeneem,” het sy gesê.

Volgens haar was daar ook ’n kragonderbreking, maar is dit voor donker herstel.



By die Dierebeskermingsvereniging (DBV) het ’n groot, ou boom omgeval en op die DBV-gebou beland.

Volgens die DBV se voorsitter, me. Michelle Swarts, het die boom die gebou beskadig.

“Gelukkig was al die diere tydens die haelstorm in hul hokke en nie beseer nie. Ongelukkig het ons nie geld om die boom te verwyder nie, en ons versoek die Tsumeb-gemeenskap om asseblief te help om die boom so gou moontlik te verwyder,” het sy gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-11-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer