Storm bars by Otji-skool los

Minister gelas ondersoek

05 September 2018 | Misdaad
Denver Kisting



Die minister van onderwys, kuns en kultuur, me. Katrina Hanse-Himarwa, het gister gesê skole wat steeds lyfstraf toedien, is besig met “nonsens”.

Dít kom nadat die bom gebars het oor Otjiwarongo Christenskool wat leerlinge glo slaan en na bewering selfs met naalde steek.

Hanse-Himarwa het by navraag gesê: “Dit is nonsens.”

Álle Namibiese skole, insluitend private skole, is onderhewig aan die land se Grondwet, wat lyfstraf verbied, het die minister gewaarsku.

'n Onderwyseres is na bewering onlangs deur die skooleienaars, past. Norman en me. Karen Marais, in die pad gesteek nadat sy dié ongerymdhede aangemeld het.

Me. Anna Lowry, 'n Nieu-Seelander, het haar tot die onderwysowerhede in die Otjozondjupastreek gewend nadat die omstandighede by die skool glo vir haar onhoudbaar geword het.

Me. Karen Marais het gister gesê: “O, genade! Niks daarvan is waar nie. Dis 'n lang storie.”

Volgens haar het Lowry tydens haar (Lowry se) proeftydperk stokkies gedraai. Sy is gevolglik ontslaan.

“Dis 'n baie, baie diep saak.”

Volgens Marais het die onderwysministerie reeds sy ondersoek afgehandel.

“O, nee, daai goedjies is uitgesorteer,” het sy gesê.

Op 'n vraag oor of die skool wél lyfstraf toepas, het Marais gesê: “Dít gaan ek nie vir jou antwoord nie.”

Volgens haar is die beweringe oor die naalde onwaar. “O, nee, dis nie waar nie. As jy enigiets van dié goed publiseer, is daar moeilikheid.”

Republikein het gister op voorwaarde van anonimiteit met 'n ouer gepraat, wie se dogter verlede jaar glo só met 'n stok geslaan is dat haar boude potblou was.

“As dit blou was, is dit nogal erg,” sê dié ouer.

Die ouer sê past. Marais het na bewering die lyfstraf toegedien.

“Hy het die slaanwerk gedoen, ja. Hy sê blykbaar die Bybel gee vir hom die magtiging om die kinders te bliksem.”

Volgens die ouer het die skool beweer hul dogter het nie haar tuiswerk gedoen nie. “Sy het nie eers geweet waarvoor sy gewiks is nie. Vir 'n meisiekind is dit eintlik baie erger as vir 'n seunskind.”

Die ouer sê die skool het voorts beweer hulle het toestemming gegee dat hul kind geslaan word. Hulle betwis dié bewering.

Hul seun het ook destyds onder lyfstraf by dié skool deurgeloop, sê die ouer.

“Ek hoor die ding (die bewering oor naalde). Dit is lelik. Eintlik is dit 'n goeie skool, maar met hierdie slanery en naaldestekery begin dit nou handuit ruk en dis baie jammer. Hulle moet baie versigtig wees, want die ministerie kan die skool sluit.”

Die ouers en die skool het na wat verneem word ooreengekom dat hulle voortaan geraadpleeg sou word oor hul dogter se dissipline. Hulle moes onlangs verklarings by die onderwysministerie aflê.

Die pastoor het gister aan Republikein gesê: “Man, weet jy, ek wil nie nou oor dié goed praat nie. Die ministerie het die saak ondersoek en ons wag op hul verslag.”

Hy verstaan nie waaroor Lowry se vete teen die skool handel nie, sê past. Marais. Haar kinders was ook leerlinge aan die skool.

“Wat húlle kinders betref, het ons glad nie aan hulle geraak nie. Ons verstaan nie hoekom hulle in dié land wil bly nie. Sy sê ons het haar onregverdig laat gaan, maar sy het uit haar eie geloop.”

Hy het benadruk die skool word ingevolge Christelike beginsels bestuur. “Álles wat ons doen, is volgens die Bybel se beginsels.”

Hanse-Himarwa het onderneem om teen môre omvattende terugvoering oor die aangeleentheid te gee.

Mnr. Sisa Namandje, Lowry se prokureur, het laat gistermiddag bevestig hy is geraadpleeg en besluit tans oor die weg vorentoe.

Soortgelyk

 

Kawana gee besonderhede oor viskwotas

8 ure gelede | Visserye

Nuwe aansoekers sal 56,2% van viskwotas ontvang en bestaande regtehouers die balans van 43,8%.Dr. Albert Kawana, wat as nuwe minister van visserye en mariene hulpbronne...

Namibië het nou 23 bevestigde Covid-19-gevalle

20 ure gelede | Gesondheid

Namibië se jongste bevestigde geval van Covid-19 (nr. 23) is 'n 38-jarige Namibiese vrou wat op 23 Mei vanaf Dar es Salaam, Tanzanië na Namibië...

The cream of the crop

20 ure gelede | Mense

Ester KamatiMonica Gwala (Niilenge), the owner of Mo-nize Farmstead Fresh Produce, is the only entrepreneur amongst six siblings, specifically in the field of agriculture –...

Namibië oper, Walvis toe

20 ure gelede | Regering

Denver Kisting – Die staatshoof, pres. Hage Geingob, sê fase 3 wat Dinsdag in werking tree, gaan van Namibiërs vereis om groter verantwoordelikheid vir hul...

Baie meer as miljard vir Air Nam nodig

20 ure gelede | Regering

Ronelle Rademeyer – Die N$984,6 miljoen wat in die nuwe boekjaar uit die belastingbetaler se sak na die nasionale redery gaan vloei, sal net “die...

Weer vir 29 Mei 2020

20 ure gelede | Weer

BINNELAND: Koud in die oggend, andersins sonnig en matig tot warm, maar warm tot baie warm in die Noorde.KUS: Sonnig en matig tot warm. GETYE...

Ouwêreldse vermaak by 'nuwe' inryteater

20 ure gelede | Kuns en vermaak

Yandi du PlessisDalk is jy al keelvol vir Netflix of ShowMax, of bloot net uitgekuier om by die huis te sit. Dalk verlang jy na...

Vier 'renosterstropers' verskyn in camera

20 ure gelede | Misdaad

Francoise Steynberg – Vier van die agt verdagtes wat vandeesweek in verband met renosterstropery en -horingsmokkelary vasgetrek is, het gister in camera in die streekshof...

San gebruik spaargeld vir wateraanleg

20 ure gelede | Omgewing

Die San-gemeenskap in die N‡a Jaqna-bewaringsgebied se water­infrastruktuur is al vir jare 'n uitdaging. Water is 'n skaarste in Namibië en inwoners van dié bewarings­gebied...