‘Stoot meer geld in landbounavorsing’
Elvira Hattingh – “Die staat moet proefplase vestig om verskeie groente- en vrugtekultivars in plaaslike weerstoestande te beproef, sodat tuinbouprodusente nie self hierdie potensieel duur proses moet deurmaak nie.”
Oom Fanie Louw, tuinbouprodusent in die Stampriet-omgewing, sê Namibië is ‘n landbouland en die regering moet oor die algemeen meer geld in navorsingstasies belê – ook vir navorsing oor vee.
“Die proefplase moet produsente en veral kommunale boere inlig oor watter plante die beste in ons weerstoestande sal groei. As jy as produsent die heeltyd proewe moet doen en mislukkings maak omdat jy nie die regte kultivars plant nie, kom jy net nie voor nie.”
Louw is die tweede geslag wat op die plaas Onverwags boer. Sy pa het die grond in 1960 gekoop, maar was ‘n skaapboer. “My ma was eintlik die akkerbouer met die groen vingers,” sê hy.
Hy is reeds dekades lank in die plaaslike tuinboubedryf betrokke en ken die uitdagings en geleenthede goed.
Louw meen dit is ook belangrik dat die plaaslike akkerboubedryf ander moontlikhede moet ondersoek om kunsmis te bekom, want tans is Namibië in dié opsig totaal afhanklik van en uitgelewer aan Suid-Afrika.
Buitelandse markte vir die toekoms
Verder meen hy in die toekoms gaan Namibië se akkerboubedryf net kan uitbrei as dit by buitelandse markte betrokke raak.
“Ons plaaslike mark is klein en ons het net soveel mense in hierdie land. Ons moet kyk na maniere om byvoorbeeld na Suid-Afrika en Europa uit te voer. Die logistieke, veral na Europa, is moeilik. Ons het egter net voor onafhanklikheid spanspek na Europa uitgevoer en het ‘n baie goeie produk en naam gehad, maar die uitvoere is ná onafhanklikwording weens probleme met reëlings met die plaaslike lugredery gestaak.
“As ons egter ons akkerboubedryf wil uitbrei, sal ons na buitelandse markte moet kyk.”
Louw meen ook dat dit, ter wille van beter voedselsekerheid in die land, belangrik is dat die regering daarop sal fokus om in die Noorde eerder koring, mielies en mahangu te plant.
“Op die oomblik moet ons hierdie produkte invoer. Moontlik moet dit, eerder as groente en vrugte, daar geplant word waar genoeg water en beter klimaatstoestande as by ons is.”
Hoë temperature is skadelik
Wat plant hy alles op Onverwags?
“Jy plant wat die mense eet. Ons bly in ‘n omgewing waar waatlemoen- en pampoengewasse goed vaar, maar ek probeer plant waarvoor daar ‘n aanvraag is. Op die oomblik bestaan ‘n groot aanvraag na uie, aartappels, tamaties en groen soetrissies asook kool.
“Ek plant dié produkte, asook blaargroentes. ‘n Groot gedeelte van ons bevolking is nie slaai-eters nie, dus plant ons nie baie daarvan nie,” sê Louw.
Onverwags se produkte word hoofsaaklik aan Freshmark, die groente- en vrugte-afdeling van die Shoprite-groep, gelewer.
“Ons het ‘n reëling met hulle en plant volgens wat hulle sekere tye van die jaar wil hê.”
Louw sê hoë temperature, eerder as te min reën, vorm een van die grootste struikelblokke vir tuinbouprodusente.
“Reënwater is goed vir enige plant en dit is altyd welkom, maar ons is nie so afhanklik daarvan soos die veeboere nie. Wat ons wel raak, is die geweldige hitte.
“Onder sekere tamatie-kultivars wat ek aanplant, sterf die stuifmeel teen temperature hoër as 36 °C. Oor die afgelope twee jaar sukkel ons om ‘n sekere tyd van die jaar ordentlike tamaties te kweek. Om dié rede ondersoek ons nou ander kultivars, soos byvoorbeeld dié uit Isreal wat beter vir hoër temperature aangepas is.
“Dis hoekom byvoorbeeld slegs in die winter op Noordoewer tamaties geplant word,” sê Louw.
Louw meen klimaatsomstandighede wat heeltyd verswak, tesame met nuwe regulasies beteken onder meer dat produsente meer koelgeriewe moet inrig en meer vars produkte koel sal moet vervoer.
“Dit is ‘n groot finansiële uitdaging. Boonop is ons ver van die mark en is vervoer nie maklik of vrylik beskikbaar nie. Ons moet dus ons eie vervoer aanskaf,” sê Louw.
Plant wat nodig is
Tuinbouprodusente in die Stampriet-omgewing het ook voorheen ‘n probleem gehad om ‘n mark en afsetpunte vir al hul vars produkte te vind.
“Ons het egter oor die jare aangepas deur moontlik minder te plant en danksy groeiprogramme plant ons nou net wat nodig is. Insetkoste is so hoog dat jy nie meer net lukraak kan plant nie.”
Louw is ook van mening dat AMTA-regulasies nie te vinnig geïmplementeer moet word nie omdat dit veral vir klein- en kommunale boere moeilik is om toe te pas en dat dit ekstra uitgawes vir produsente gaan beteken. Boonop sê hy te veel regulasies kan ‘n bedreiging vir die vrye mark raak.
Louw is ook van mening dat georganiseerde landbou baie belangrik is.
“Ons moet op die een of ander manier die probleme takel wat ons ervaar. Hoe anders as deur middel van ‘n vereniging – die regering gaan nie na individue luister nie.”
Louw se raad aan voornemende boere wat die mark wil betree, is om eerstens seker te maak ‘n mark vir jou produkte bestaan.
“ Jy moet die liefde vir die saak hê en dit nie net doen om geld te maak nie, want dit is harde werk en daar is terugslae, jy moet dit kan vat. In die tuinboubedryf kan jy enige dag hael kry en die volgende dag is daar niks.
“Jy moet dit alles in oënskou neem en besluit of jy werklik kans sien vir hierdie bedryf.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie