Stimulus belu00ea in groen energie
Stimulus belu00ea in groen energie

Stimulus belê in groen energie

Geeneen van die maatskappye op die plaaslike indeks kon Vrydag met ‘n hoër sluitingsprys as die vorige week spog nie.
Jo-Mare Duddy Booysen
Jo-Maré Duddy – Stimulus Investments Ltd het 67,7% van Khomas Solar Saver (Pty) Ltd bekom, het dié plaaslik genoteerde maatskappy Vrydag gesê.

Die res van die aandele bly in die besit van Khomas Solar Saver se stigters- en sleutelbestuurslede. Die onderneming, wat in 2016 op die been gebring is, bied langtermyn-huuropsies vir die installering van sonkrag op dakke vir korporatiewe en kommersiële kliënte aan. Finansiering van tussen N$350 000 en N$7 miljoen per projek is ook beskikbaar.

Van Khomas Solar Saver se kliënte sluit die Lady Pohamba-hospitaal, Metro Hyper, Engen Academia, Oshana Built It en River Crossing Lodge in.

In die aankondiging van dié transaksie op die Namibiese aandelebeurs (NSX) het Josephat Mwatotele, uitvoerende direkteur van Stimulus, gesê die belegging sal Khomas Solar Saver se balansstaat versterk. Sodoende sal dié besigheid munt uit die toenemende groen-ambisies van die korporatiewe sektor in die land kan slaan, sê hy.

Altesaam N$564 miljoen van Stimulus se voorkeuraandele is op die plaaslike indeks van die NSX genoteer. Verlede week het bykans N$5,46 miljoen van dié aandele in totaal teen N$121,29 stuk verhandel.

Oryx

Nog nuus op die plaaslike indeks is ‘n handelsverklaring Vrydag waarin Oryx Properties Ltd gesê het sy totale omvattende inkomste vir die halfjaar tot einde Desember 2016 gaan na verwagting tussen 10% en 30% minder as dié van dieselfde ses maande in 2015 wees.

‘n Geringe opwaartse aanpassing in die redelike waarde van Oryx se eiendomsbeleggingsportefeulje teenoor dieselfde tydperk in 2015 is die rede vir dié val, sê Oryx. Die verspreiding aan eenheidshouers sal nie hierdeur geraak word nie.

Oryx se jongste halfjaarresultate word vroeg volgende maand verwag.

Altesaam N$843 200 van Oryx se aandele is verlede week op die plaaslike indeks van die hand gesit. Die groep het Vrydag op N$21,08 per aandeel gesluit, 2c stuk of 0,1% laer as die vorige week.

Plaaslike indeks

Meer as N$20,1 miljoen is verlede week in totaal op die plaaslike indeks verhandel vergeleke met sowat N$27,1 miljoen die vorige week.

Geeneen van die maatskappye op dié indeks kon met ‘n hoër sluitingsprys as die vorige week spog nie. Naas Oryx moes twee ander maatskappye ook met laer sluitingspryse tevrede wees.

Bidvest Namibia Ltd is die ergste geknou met ‘n sluitingsprys wat met 11,2% teenoor die vorige week getuimel het. Bidvest het Vrydag op N$9,00 per aandeel geëindig, N$1,13 stuk minder as die vorige een. FNB Namibia Holdings se sluitingsprys het met 3c stuk of 0,1% teruggesak. Dié groep het Vrydag op N$47,56 per aandeel geëindig.

Naas Stimulus en Oryx is volgende verhandeling aangeteken: Bidvest (bykans N$7,69 miljoen); FNB (sowat N$4,7 miljoen) en Namibia Breweries Ltd (bykans N$1,4 miljoen; sluitingsprys N$31,00 per aandeel).

Die plaaslike indeks het verlede week met 0,59% teenoor die vorige een teruggesak en het die week op 561,65 punte geëindig.

Algehele indeks

Op die algehele indeks van die NSX is meer as N$348,6 miljoen se aandele verlede week in totaal verhandel teenoor sowat N$304,1 miljoen die vorige week.

Die indeks het Vrydag op 1 108,11 punte geëindig, 2,08% hoër as die vorige week. Die JSE se indeks van alle aandele het met 0,81% verstewig.

Paladin Energy Ltd was die grootste wenner op die plaaslike indeks. Dié meerderheidsaandeelhouer in die Langer Heinrich-uraanmyn het Vrydag op N$1,53 per aandeel gesluit, 30c stuk of 24,4% hoër as die vorige week.

Bidvest was die NSX se grootste weekverloorder.

Kommentaar

Republikein 2025-06-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer