Stilte oor Noord-Korea kweek
Stilte oor Noord-Korea kweek

Stilte oor Noord-Korea kweek

Dani Booysen
Dani Booysen - Die Namibiese regering se voortgesette stilte oor hoe en wanneer Noord-Koreane wat die teiken van internasionale sanksies is die land gaan verlaat, is beklaenswaardig.

Die eerste van die Verenigde Nasies (VN) se geteikende sanksies is reeds in 2006 ingestel.

Meer as 'n dekade later probeer die Swapo-regering oënskynlik steeds inwoners heuning om die mond smeer. Eers is beloof dat alle bande beëindig is en dat volledig uitvoering aan sanksies gegee word.

Tog is dit 'n feit dat van die omstrede Noord-Koreaanse maatskappye wat in die spervuur is se werknemers steeds doenig in Namibië is.

As staatshuis en die ministerie van internasionale betrekkinge en samewerking nie om dieselfde vuur oor die kwessie sit nie, moet hulle hul verskille uitstryk. Dit is nie 'n rede om mense in die duister te hou.

Prakties moes sekere konstruksiewerk aan plaasvervangers oorhandig word, maar selfs so 'n proses kan gegewe omstandighede nie sonder streng, selfopgelegde spertye geskied nie.

Voldoening aan sanksies bly in die afwesigheid van enige feite tot die teendeel pure praatjies.

Nog erger – die behandeling van hierdie Noord-Koreane, soos soms met Chinese die geval is, versterk die persepsie dat verskillende kategorieë van buitelandse gaste bestaan en dat sommige geregtig is op spesiale behandeling, en ander nie.

As die regering regtig ernstig is om sy verpligtinge na te kom, moet dit die publiek in sy vertroue neem.

Die teendeel is maar net een van talle maniere waarop die regering wantroue in sy beleid en opregtheid kweek.



So sê ander

13 September 2017



Kim, Trump: Ongeluk wat plek soek om te gebeur



Die wêreld is met rede bekommerd oor die Noord-Koreaanse krisis en die stygende spanning wat dit meebring.

Die 15 lede van die VN se veiligheidsraad het Maandagaand op versoek van Amerika eenparig vir bykomende sanksies teen Noord-Korea gestem.

Met heethoofde soos die Noord-Koreaanse diktator aan die een kant en pres. Donald Trump van Amerika, wat juis reaksie met “fire and fury” beloof het, aan die ander kant is kalmte van die uiterste belang.

Kim se optrede, soos die skending van Japan se lugruim, kom neer op die pluk van die Amerikaanse leeu se snorbaarde. Daar is immers genoeg tekens wat daarop dui dat Kim aan 'n matelose selfoorskatting ly.

Die ander kant van die probleem is dat Trump self dikwels impulsief optree. Saam lyk dié twee leiers na 'n ongeluk wat net 'n plek en 'n tyd soek om te gebeur. Die erns van hierdie situasie durf nie onderskat word nie.

• NETWERK24

Kommentaar

Republikein 2025-09-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer