Stil woestyn
Stil woestyn

Stil woestyn

Lugspieëlings deur Marié Blomerus
Elvira Hattingh
In die Namib is daar verskillende woestyne.
Daar is die woestyn van duine wat kort-kort van kleur verander; die rotswoestyn met die verruklike gekleurde korsmosse van rooi en dowwe groen en selfs soms swart en die skraps bossies met die dorings en die enkele fyn fee-agtige blommetjie hier en daar; daar is die wye vlakte-woestyn met koppies en verweg ook die groot berge wat blouer as blou in die vlaktes lê met die grootste stilte denkbaar, ’n ewige stilte wat liggies suis en die gemoed tot rus dwing asook die oases en sout­panne en selfs eensame begraafplase.
So bevind ons ons by die begraafplaas by die halte Trekkopje in die uiterste verlatenheid. Niks en niemand en tóg . . .
Met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog in 1914 was Namibië nog Deutsch-Südwestafrika, maar volgens wat ek kon vasstel, het die Uniemagte onder bevel van Generaals Louis Botha en Jan Smuts by Walvisbaai en Lüderitzbucht die Duitse gebied op 10 Augustus 1914 binnegeval en op ver­skeie plekke was daar skermutselinge en gevegte, onder andere by Trekkopje langs die spoorlyn na die binneland. Daar het die Uniemagte die spoorlyn bewaak om te voorkom dat hulle verbindings afgesny word.
By Trekkopje het die Uniesoldate hulself verskans, maar was bewus van die klompie Schutztruppe wat in die nabyheid, maar ongesiens was. Die dag van 26 April 1915 het aangebreek en aan albei fronte is skynbaar gewag om te sien wat eintlik gaan gebeur.
Uiteindelik het die Duitsers besluit om ’n verkenner of meer uit te stuur. Berede soldate. Soos die gebruik gewoonlik was, het die Uniemagte geen beroering ­veroorsaak deur dadelik aan te val en te verdedig nie. Hulle het gewag. Gewag dat die vyand onder skoot kom.
Onder die Suid-Afrikaners was ene Lawrence Louw van Johannesburg en toe die voorste ruiter binne ­trefafstand was, is hierdie einste Louw deur die bevelvoerder aangesê om te vuur.
Dit was skynbaar ’n skreiende bevel, maar ’n soldaat gehoorsaam en met baie wroeging het hy ’n skoot afgetrek wat die voorste persoon laat sneuwel het en aanleiding gegee het tot die skermutseling.
Tans is daar die omheinde begraafplaas met die 16 grafte van die gesneuweldes – nege grafte vir die Suid-Afrikaners en twee grafte waarvan een ses Duitsers bewaar en een waarin net een Duitser begrawe is naamlik:
Hauptmann Wilhelm Frhr, v Watter
2 Kompagnie
geb. 23.6. 1880
gef. 26.4.1915
bei Trekkoppje.
In die gesamentlike graf:
Es starben den Heldentod am 26.4.1915 Gefecht bei Trekkoppje

Unteroffizier e.d. Ldst.
Karl Waldner
2, Res, Komp.
Geb. 7.1.1871

Gefreiter
Viktor Klein, Max Picher
2, Res, Kompagn.
2, Res, Kompagn.

Heinrich Haase, 2,Res, Kompagn.
Paul Einicke, 2, Res, Kompagn.

Reiter d.Erst.Res.
Emil Marquardt
2, Res, Kompagn.
geb. 1.6. 1887

Die Suid-Afrikaners het aparte grafte met die embleem van ’n springbokkoppie teen die grafsteen en een gesneuwelde van die destydse Rhodesië met ’n leeu-embleem:
Lance Corporal D.A. Filer - 2nd Kimberley Regiment
Lance Corporal T.A. Cameron – 2nd Kimberley Regiment
Lieutenant W.E. Cameron – Transvaal Scottisch Regiment
Private G.S.Reid – S.A. Telephone and Postal Corps
Captain E. Harrison- 2nd Kimberley Regiment
Private W.E. Andersson – 2nd Kimberley Regiment
Lance Corporal J.R.Wells – 2nd Kimberley Regiment
Lieutenant F. Hollingsworth – 1st Rhodesian Regiment
Private A. Lambie – 2nd Kimberley Regiment

Buite die omheining staan ’n enkele kameeldoringboom en met die wegstap tref dit my dat dit tog nie meer eensaam is as enige ander begraafplaas nie. Eintlik is dit op ’n vreemde manier mooi en rustig en in die omgewing groei silwer grasse en kraalaalwyne en ander woestynstruike. Twee volstruise draf met hulle jong kuikens ’n entjie verder en ’n eensame wit skoenlapper fladder verby. Oral skyn die berge blou en so ook die koepel van die onbewolkte lug. Die soldate is al ’n honderd jaar weg, maar die woestyn is steeds daar in al sy besondere skoonheid.

Kommentaar

Republikein 2025-06-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer