Stewige begin vir Jessica in beroepspel
Gholf
Andrew Poolman
Die Namibiese gholfspeler Jessica Dreesbeimdieke se toetrede tot die Amerikaanse beroepspel het laas naweek heel belowend begin, hoewel sy ietwat gefrustreerd was dat sy nie nóg beter kon vaar nie.
Dreesbeimdieke het ná die eerste twee rondes van die Florida Ope-toernooi in haar eerste doelwit geslaag deur met gemak die afsnypunt te haal.
Sy was in daardie stadium in die gesamentlike 33ste posisie, voordat sy Sondag ook in dié plek klaargemaak het.
Altesame 154 vrouespelers het die toernooi begin, met die Namibiër wat 14de van die beroepspelers geplaas is. Sy het rondes van 79, 72 en 78 gespeel.
“Om eerlik te wees, het die naweek nie so goed verloop as waarvoor ek gehoop het nie. Op die eerste dag was daar kwessies met tydsame spel in my afslaangroep. Dit het ons strafhoue gekos en ek het toegelaat dat dit my spel beïnvloed,” het sy gister aan die koerant gesê.
“Aan die begin van die tweede dag het ek geweet ek sal moet kophou en veg vir 'n goeie telling om onder die afsnymerk ná 36 putjies te bly. Ek het dit reggekry om 'n beter ronde te speel, maar kon ongelukkig nie in die finale ronde my posisie verder verbeter nie.
“In die laaste ronde was feitlik al die spelers se tellings hoër, vanweë verskeie vertragings toe reënstorms ons van die baan af gedwing het. Daar was 'n geleentheid om op die voorloperbord hoër te klim, maar ek het met my sethoue gesukkel en 'n paar wou net nie in die blikkie land nie.
“In die geheel voel ek glad nie dat ek volgens my volle potensiaal gespeel het nie. Ek is nogtans super opgewonde om in my eerste beroepstoernooi die afsny te kon oorleef. Ek het definitief baie geleer laas naweek – beide aangaande my fisieke spel en my geestelike ingesteldheid. Ek is baie opgewonde om na die oefenbaan terug te keer.”
Volgens Dreesbeimdieke, wat volgende maand 22 jaar oud word, sal sy later vandeesmaand in Kalifornië aan die eerste stel toernooie van die Amerikaanse Professionele Vrouegholfvereniging (LPGA) se kwalifiserende reeks begin deelneem.
“As alles volgens plan verloop, sal ek deurdring om in Oktober tydens die tweede en derde stelle toernooie vir 'n LPGA-toerkaart te speel.
“Daarna lê die Colorado Vroue Ope voor – 'n toernooi waartydens ek die afgelope twee jare as 'n amateurspeler beide kere die afsny oorleef het.”
Dreesbeimdieke, in haar finale jaar aan die Universiteit van Denver, het die afgelope jaar groter fokus op haar BA-studies toegespits, waar sy in Junie gegradueer het.
“Dit was nooit my plan om professioneel gholf te speel voordat ek my graad verwerf het nie, want onderwys bly vir my baie belangrik. Noudat ek dit afgehandel het, het ek tyd om al my aandag aan my gholf te bestee en kan ek my droom najaag om professionele gholf te speel.”
Dreesbeimdieke het tevore in Windhoek gewoon en skoolgegaan voordat haar gesin na die VSA verhuis het. Haar ma Bianca is met die Namibiese gholfspeler Trevor Dodds getroud.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie