Sterre bevestig vir DZ Golf Invitational

Gholf
Andrew Poolman
Andrew Poolman - Dan Zwiebel, wat die afgelope jare Omeya Gholfklub se hoofbestuurder was, het onlangs sy nuwe maatskappy DZ Golf bekendgestel wat die visie nastreef om Namibië as 'n reisbestemming vir gholfspelers blootstelling te gee.

Zwiebel het ook sy eerste gholftoernooi onder die vaandel van DZ Golf bekendgestel.

Die DZ Golf Invitational (tevore bekend as die Omeya-gholfdag) sal op Vrydag 5 Julie by die Windhoek Buiteklub se baan gespeel word. Sy visie is om die geleentheid mettertyd ook na ander klubs in Namibië te neem.

“Ek is verheug om te kan aankondig dat die bekende persoonlikhede wat laas jaar deelgeneem het, weer hul koms bevestig het. Dit sluit die voormalige Proteas-krieketspelers Jacques Kallis, Mark Boucher en Paul Harris, die akteur Neels van Jaarsveld en die SA beroepsgholfspeler Neil Schietekat in,” sê Zwiebel.

SuperSport stuur glo ook 'n span van drie wat deel van die produksie vir latere uitsending op die program Showcase sal wees.

'n Groot mikpunt met vanjaar se eerste DZ Golf Invitational is om die vlak van aanbieding van gholftoernooie in die land na nuwe hoogtes te lig en die maatstaf te stel vir alle toernooie wat hierop volg. Zwiebel beskou dit as van groot belang om blootstelling aan meer gholfklubs in die land te gee.

“Al is 'invitational' deel van die naam, is inskrywings oop vir enige speler. Die toernooi word beperk tot 30 spanne (vier spelers elk), met voorkeur wat gegee word aan borge van die toernooi, asook aan vorige jare se inskrywings,” sê Zwiebel.

Vir inskrywings kan Zwiebel by sel. 081 781 0626, of e-pos [email protected] bereik word. DZ Golf se vordering kan ook op Facebook en Instagram gevolg word.



STIGTER

Dan Zwiebel, 'n gebore en getoë Namibiër, het sy skoolloopbaan in 1999 by Namib High School in Swakopmund voltooi. Hy het 'n diploma in sportbestuur en -afrigting by Northlink College SA Professional Golf College verwerf.

In September 2007 het hy by die professionele Sonskyntoer as 'n toernooikoördineerder aangesluit.

“Ek het my pad opgewerk tot die status van toernooidirekteur en het my diploma in die toepassing van reëls as 'n gholfskeidsregter van die R&A verwerf. Gedurende my ses-en-'n-half jaar by die Sonskyntoer het ek Europese Toer-geleenthede soos die Suid-Afrikaanse Ope, die Afrika Ope, Tshwane Ope en Nelson Mandela-kampioenskap gekoördineer,” sê hy.

Saam met Grant Wilson (bedryfshoof van die Sonskyntoer) het hy in 2011 die Big Easy ontwikkelingstoer tot stand gebring, wat tot 'n belangrike platform vir die groei van beroepsgholf in Suid-Afrika ontwikkel het.

“Ek het in 2014 terug na Namibië verhuis en het as hoofbestuurder by Omeya Gholfklub aangesluit. Saam met 'n baie bekwame span het ons die klub op die Namibiese en internasionale kaart gevestig.”

In Maart vanjaar het hy sy eie maat­skappy, DZ Golf Investments, gestig, terwyl Jaco van Reenen sy amp by Omeya oorgeneem het.

“Soos enige gholfspeler was my droom ook om op internasionale vlak mee te ding, maar daar was altyd meer aan die spel as blote deelname.

“Dit verskaf my groot genot om wêreldklas gholfgeleenthede te reël, ongeag of dit op klub- of professionele vlak is. Gholf stel jou bloot aan soveel onvergeetlike plekke en interessante mense. Ek glo spelers en lede behoort 'n vyfster ondervinding te geniet.

“Die droom as gholfspeler is gou oortref deur die droom om 18 jaar van ondervinding met 'n toetrede tot die wêreld van entrepreneurskap te kombineer. DZ Golf is 'n Namibies gebaseerde maatskappy wat daarop gerig is om geleenthede te reël (gekombineer met toere en safari's), asook op klubbestuur.

“Ons visie is om gholf in Namibië te laat groei en aan die wêreld te wys wat die land kan aanbied.”

Kommentaar

Republikein 2025-08-06

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer