Steri Nappi, Ikebana en ’n hand vol maroelas
Met die jaar wat op sy rug lê en net ’n hand of twee se slapies wat oor is voor ’n nuwe een begin, is dit seker gepas dat die voornemens vir die jaar van onse Heer 2019 begin vorm aanneem.
Niks van macrame en minder soetgoed en meer ‘push ups’ vir weerbarstige armlêlle nie.
Al lank gis die saadjie vir ’n eie brousel. ’n Properse craft-bier, met my eie gebod van reinheid wat ek in ruim proesels hierby inroer.
Die behoefte aan stook blameer ek op ’n bloedlyn wat saam die Drakensberge oor is en saans met gewyde maat in die skadu van ossewaens in blikbekers tydens ’n oorsig van die dag se trek aan geproe is. Om die huidige behoefte aan boetiekbier in konteks te plaas, is dit gepas om in gedagtes terug te keer na ’n tyd toe dit in ’n kindertyd se huis gegis en gebrou is.
Ouma Vlam was in daardie stadium erelid by die Vrouelandbouvereniging (VLV) in ’n tyd toe die Japannese manier van rangskik Otavi soos ’n brander tref. Ikebana raak die gonswoord en die belangrikste opdrag dat wat jy ook al in jou oase (die groen spons) druk, ’n lyn moet vorm. Van gedroogte bamboes tot hout met krulle en draaie wat eintlik op die braaivleisvuur hoort. Iewers kry Ouma Vlam koperpype in die hande wat terstond hul weg na ’n oase en ’n hoofrangskikking op ’n bruidstafel vind.
Eers is dit die Steri Nappi-emmer wat stil-stil voete kry. Toe verdwyn Ouma Vlam se koperpype. Oupa Lag verontskuldig homself verontwaardig. Tot die aand wat Steri Nappi, Ikebana en ’n hele kruiwa-oes maroelas op skouspelagtige wyse mekaar in ’n mampoersimfonie “vind”.
In elke verhaal, waar of onwaar, speel die milieu en die tyd ’n baie belangrike rol om dinge in perspektief te plaas. In dié geval het die oermampoer-ontploffing in die oorlogtyd plaasgevind. Gordyne en deure was teen 18:00 toe, kinders, honde en grootmense binnenshuis en teen 20:00 stap Oupa Lag vir oulaas ’n draai om die huis om te kyk of sy werf en haard veilig en rustig is.
Toe die helse slag. In en deur die slaap kom die ingedrilde maneuver van dekking slaan op die vloer en onder die bed. Doodstil, plat op die maag lê ons en wag vir die koeëls wat ná die bom moet begin vlieg. Die stilte rek in minute, later ’n halfuur. Ons bly in die dekkingposisie. Oupa Lag, as hoof van die huis en die enigste met papiere wat handwapens mag hanteer, waag dit met knopkierie in die hand in die rigting van die ontploffing. En die reuk.
Suursnakstank wat jou tussen die oë slaan net daar waar jy dekking geslaan het. Baie dapper skuifel-skuil ons agter Oupa Lag aan tot by die misdaadtoneel wat aangedui word met ‘n Sterri van die Nappi wat verbete aan die oorblyfsels van ’n plafon klou. Oermampoergis wat soos stalagtiete uit ’n vergete grot grond toe drup-drup.
“O gits, dit gis,” sê Oupa Lag. “My lyne,” sê Ouma Vlam.
“Maroela,” sê ek en begin suig aan ’n pit wat die skermutseling net-net oorleef het. Van Oupa Lag se selfgeprakseerde stookketel is Ikebana oor. Ouma Vlam se woede versag tot ’n sagte koperglim toe sy sien watter mooi krulle die oerknal nou in haar lyne gemaak het. Sy droom van VLV-rosette verdien met bruidstafel- en grafruikers wat mense saggies na hul asem laat snak.
Oupa Lag skop die Nappi-emmer en gooi die mampoerhanddoek in.
Ek droom van my eie brousel – “Het(k)se brousel”, 2019 AD.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie