Stembriewe op laaste nippertjie oorgedruk
Stembriewe op laaste nippertjie oorgedruk

Stembriewe op laaste nippertjie oorgedruk

Die stembriewe van drie kiesafdelings vir komende verkiesings moet herdruk word.
Sanet de Waal
Kristien Kruger - Die Verkiesingskommissie van Namibië (ECN) het gister tydens ’n inligtingsessie oor die streekraads- en plaaslike owerheidsverkiesings by hul hoofkantoor in die hoofstad gesê daar was foute op stembriewe, maar dat die kwessie voor verkiesingsdag op 25 November uitgesorteer sal wees.

Die drukproses was reeds verlede week suksesvol voltooi en die stembriewe het verlede Vrydag (13 Nov) op ’n vlug vanaf Durban, Suid-Afrika, op die Internasionale Lughawe Hosea Kutako geland.

“Die ECN het eers ná die stembriewe afgelewer is, bewus geword van die foute op sommige stembriewe,” het die hoofkiesbeampte van die ECN, mnr. Theo Mujoro, gesê.

Volgens hom sal die gewysigde stembriewe, wat weer in Durban in Suid-Afrika gedruk word, betyds afgelewer en na die verskeie kiesafdelings versprei word.

“Alle partye, verenigings en onafhanklike kandidate is genooi om na die ECN se hoofkantoor te kom om ’n voorbeeld van die stembrief na te gaan en regstellings te maak, indien nodig,” het Mujoro gesê.

“Nie almal het verteenwoordigers gestuur om die inligting op die stembriewe te verifieer nie en ander het die foute oorgesien,” het hy gesê.

Volgens Mujoro het die Otavi-, Omatako- en Otjombinde-kiesafdeling foutiewe stembriewe.

“Ons is in kontak met die kandidate en partye wat deur die foutiewe stembriewe geraak is en hulle is bewus van die probleem.

“Ons verseker die nasie dat die herdruk van hierdie stembriewe se integriteite in geen manier in die slag sal bly nie.”

TE VEEL STEMBRIEWE

Die ECN het volgens Mujoro ook te veel stembriewe vir die Kabbe-Suid-kiesafdeling laat druk.

Volgens hom sal daardie boeke waaruit die stembriewe uitgeskeur word, in Windhoek bly en nie versprei word nie. Dit sal glo geseël bly en veilig geberg word.

Volgens ’n verklaring wat verlede week deur die ECN uitgereik is, sou die stembriewe vanaf 14 tot 17 November sorteer word en tussen 18 en 20 November na al die streke versprei word.

“Die sorteringsproses is egter nog onderweg en sal in die teenwoordigheid van politieke kandidate se verteenwoordigers plaasvind,” het Mujoro gesê.

“Buiten ’n paar kwessies wat binnekort opgelos sal word, is die ECN slaggereed vir die komende verkiesings,” het Mujoro verseker.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer